Romeine 8:9-25

Romeine 8:9-25 AFR20

Julle, daarenteen, bly nie in julle sondige aard nie, maar in die Gees – as die Gees van God inderdaad in julle woon. As iemand nie die Gees van Christus het nie, behoort hy nie aan Hom nie. Maar as Christus in julle is, is die liggaam, as gevolg van die sonde, wel dood; daarenteen, op grond van die regverdiging, is die Gees lewe. As die Gees van Hom wat Jesus uit die dood opgewek het in julle woon, sal Hy wat Christus uit die dood opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon. Daarom dan, broers, het ons 'n verpligting – maar nie teenoor ons sondige aard, om daarvolgens te leef nie. Want as julle volgens julle sondige aard leef, sal julle sterf. Maar as julle deur die Gees die praktyke van die liggaam doodmaak, sal julle leef. Almal wat deur die Gees van God gelei word, hulle is kinders van God. Julle het immers nie 'n Gees ontvang wat verslawing bring, sodat julle weer bang hoef te wees nie; nee, julle het die Gees ontvang wat bevestig dat ons tot kinders aangeneem is, en deur Hom roep ons “ Abba , Vader!” Die Gees self getuig teenoor ons gees dat ons kinders van God is. Maar as ons kinders is, is ons ook erfgename – erfgename van God en mede-erfgename met Christus mits ons inderdaad saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word. Ek is oortuig dat die lyding van die huidige tyd nie vergelyk kan word met die heerlikheid wat bestem is om aan ons geopenbaar te word nie. Met vurige verlange wag die skepping daarop dat die kinders van God openlik bekend gemaak sal word. Want die skepping is onderwerp aan 'n sinlose bestaan, nie uit eie keuse nie, maar deur Hom wat dit daaraan onderwerp het. Die skepping hoop om self vrygemaak te word van verslawing aan die verganklikheid, met die oog op die heerlike vryheid van die kinders van God. Ons weet immers dat die ganse skepping tot nou toe saam met ons sug, ja, in geboortepyne verkeer. En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees as God se eerste gawe ontvang het, sug innerlik, terwyl ons uitsien na ons aanneming tot kinders, die bevryding van ons liggame. Ons is immers verlos in hoop. Maar die hoop wat gesien kan word, dit is nie regtig hoop nie; want wie hoop nog op wat 'n mens reeds kan sien? Maar as ons hoop op dit wat ons nie sien nie, dan wag ons daarop met volharding.