Romeine 3:19-31

Romeine 3:19-31 AFR20

Ons weet dat alles wat die wet sê, gerig is aan diegene wat onder die wet staan, sodat elke mond die swye opgelê kan word, en die hele wêreld hulle voor God moet verantwoord. Daarom sal geen mens op grond van die uitvoering van die wet voor Hom geregverdig word nie, want juis deur die wet ken ons die sonde. Maar nou word die geregtigheid van God, waarvan die Wet en die Profete getuig, sonder die wet bekend gemaak. Hierdie geregtigheid gee God deur die geloof in Jesus •Christus aan almal wat glo. Want daar is geen onderskeid nie: Almal het trouens gesondig, en die eer aan God ontbreek by hulle; en tog word hulle goedgunstig op grond van sy genade vrygespreek deur die bevryding in Christus Jesus. God het Hom, deur sy bloed, daargestel as versoeningsoffer wat deur die geloof verkry word, as bewys van sy geregtigheid; want so het Hy in sy verdraagsaamheid die sondes wat voorheen gedoen is, oorgesien. Hy het sy geregtigheid in die huidige tyd bewys om so regverdig te wees en dié wat in Jesus glo, regverdig te verklaar. Is daar dan nog sprake van roem? Dit is uitgesluit. Deur watter wet? Die wet van die werke? Nee, deur die wet van die geloof. Ons is immers daarvan oortuig dat 'n mens regverdig verklaar word deur die geloof, sonder die uitvoering van die wet. Of is God net die God van Jode? Is Hy nie ook God van nie-Jode nie? Ja, ook van nie-Jode, aangesien dit een God is wat besnedenes op grond van die geloof regverdig sal verklaar, en ook onbesnedenes deur die geloof. Maak ons dan deur die geloof die wet ongeldig? Hoegenaamd nie! Trouens, ons bevestig die wet.

Video vir Romeine 3:19-31