Romeine 15:14-33

Romeine 15:14-33 AFR20

My broers, persoonlik is ek daarvan oortuig dat julle ook self vol goedheid is en oor volledige kennis beskik, in dié mate dat julle mekaar ook kan reghelp. Tog het ek oor sekere sake nogal vrymoedig aan julle geskryf om julle daaraan te herinner dat ek, deur die genade wat God my gegee het, 'n bedienaar van •Christus Jesus aan die heidene is. Ek bedien die evangelie van God priesterlik, sodat die heidene 'n aanneemlike offer, geheilig deur die Heilige Gees, kan wees. Dit is dan waarop ek my in Christus Jesus beroem: dat ek hierdie offer aan God kan bring. Ek sal dit inderdaad nie waag om oor iets anders te praat as wat Christus deur my gedoen het om die heidene tot gehoorsaamheid te bring nie – deur woord en daad, deur kragtige tekens en wonders, deur die krag van die Gees van God. Gevolglik het ek die verkondiging van die evangelie van Christus heeltemal voltooi, van Jerusalem af en rondom, tot sover as Illirikum. So het ek my dit ten doel gestel om die evangelie te verkondig, nie waar Christus reeds bekend was en ek dus op iemand anders se fondament sou bou nie, maar, soos daar geskryf staan: “Hulle wat nie van Hom vertel is nie, sal sien, en hulle wat nie gehoor het nie, sal verstaan.” Daarom is ek ook dikwels verhinder om by julle uit te kom. Maar noudat ek nie meer plek in hierdie streke het nie, en reeds vir baie jare die begeerte het om by julle uit te kom, sal ek dit doen wanneer ek na Spanje onderweg is. Want ek hoop om julle op my deurreis te sien, en dan deur julle daarheen voortgehelp te word, as ek eers vir 'n tydjie die samesyn met julle geniet het. Maar nou is ek vir eers op pad na Jerusalem in diens van die •heiliges. Macedonië en Agaje het dit naamlik goedgedink om 'n bydrae te maak vir die armes onder die heiliges in Jerusalem. Hulle het dit goedgevind, en was dit bowendien aan die heiliges verskuldig. As die heidene in hulle geestelike seëninge gedeel het, is hulle dit tog ook aan die heiliges in Jerusalem verskuldig om hulle met materiële seëninge te bedien. As ek dit dan afgehandel en die opbrengs veilig aan hulle besorg het, sal ek by julle langs na Spanje reis. En ek weet dat wanneer ek na julle kom, dit sal wees met die volle seën van •Christus. Ek smeek julle dan dringend, broers, by ons Here Jesus Christus en die liefde van die Gees, om deur julle gebede tot God saam te stry vir my, sodat ek gered sal word van die ongelowiges in Judea, en dat my diens aan Jerusalem vir die heiliges daar aanvaarbaar sal wees. So sal ek dan, as dit God se wil is, met blydskap na julle kom en by julle verfris word. Mag die God van vrede met julle almal wees. •Amen.

Video vir Romeine 15:14-33