My vraag is dan: “Het God dalk sy volk verstoot?” Hoegenaamd nie! Ek is tog ook 'n Israeliet, uit die nageslag van Abraham, uit die stam van Benjamin. “God het nie sy volk verstoot” wat Hy reeds tevore gekies het nie. Of weet julle nie wat die Skrif oor Elia sê nie, hoe hy hom op God beroep het teen Israel?
“Here, u profete
het hulle doodgemaak,
u altare het hulle afgebreek.
Ek het alleen oorgebly,
en hulle soek my lewe.”
Maar wat is God se antwoord aan hom?
“Ek het vir My seweduisend mans laat oorbly
wat nie hulle knie voor Baäl
gebuig het nie.”
Net so is daar ook in die huidige tyd 'n oorblyfsel, deur genade uitgekies. Maar as dit uit genade is, is dit nie meer op grond van dade nie; want anders sou die genade nie meer genade wees nie.
Waarop kom dit dan neer? Dat Israel dit wat hulle soek, nie gekry het nie. Maar die uitverkorenes het dit wel gekry. Die res is egter verhard, soos daar geskryf staan:
“God het aan hulle 'n trae gees gegee,
oë wat nie sien nie,
en ore wat nie hoor nie,
tot op die dag van vandag.”
En Dawid sê:
“Laat hulle etenstafel
'n valstrik en 'n vangnet word,
'n struikelblok en 'n vergelding vir hulle.
Laat hulle oë verblind word,
sodat hulle nie kan sien nie,
laat hulle rûe vir altyd krom buig.”
Ek vra verder: “Hulle het tog seker nie gestruikel, net sodat hulle tot 'n val sou kom nie?” Hoegenaamd nie! Inteendeel, deur hulle val het die verlossing na die nie-Jode gekom om hulle jaloers te maak. As hulle val 'n verryking van die wêreld meegebring het, en hulle tekort 'n verryking van die nie-Jode, hoeveel te meer hulle volle getal!
Vir julle uit die nie-Jode sê ek: In soverre ek dan •apostel vir die nie-Jode is, strek dit my bediening tot eer, in die hoop dat ek dalk my eie mense jaloers kan maak, en 'n aantal van hulle tot verlossing kan bring. As hulle verwerping vir die wêreld versoening meegebring het, wat sal hulle aanneming nie beteken nie! Niks anders nie as lewe uit die dood!
As die eerste stukkie deeg heilig is, dan is die hele baksel heilig. En as die wortel heilig is, dan ook die takke. En as 'n aantal van die takke van die mak olyfboom uitgebreek is, en jy, die wilde olyf, tussen die takke ingeënt is, en so aan die voedingskrag van die mak olyfboom se wortel deel gekry het, moet jy nie teenoor die ander takke spog nie. As jy wel spog – jy ondersteun nie die wortel nie, maar die wortel jou. Jy sal dan sê: Daar is takke uitgebreek sodat ék op die boom ingeënt kan word. Goed en wel. Dit is deur hulle ongeloof dat hulle uitgebreek is. Maar jy is daar deur jou geloof. Moenie hooghartig wees nie , maar wees vol ontsag. Want as God die natuurlike takke nie gespaar het nie, sal Hy jou dalk ook nie spaar nie. Sien daarom God se goedheid sowel as sy strengheid raak: sy strengheid oor hulle wat afvallig geword het, maar sy goedheid oor jou – mits jy in sy goedheid bly, want ook jy kan uitgekap word. En wat hulle betref, as hulle nie in hulle ongeloof volhard nie, sal ook hulle weer ingeënt word. God is magtig om hulle weer terug te kan ent. Want as jy uitgekap is uit wat van nature 'n wilde olyfboom was, en jy teen jou natuur op die mak olyf oorgeënt kon word, hoeveel te meer sal die natuurlike takke nie op hulle eie olyfboom teruggeënt kan word nie!