Psalms 94

94
1 O God wat vergeld, Here,
God wat vergeld, laat u lig skyn.
2Verhef U, regter van die aarde,
gee hoogmoediges
hulle verdiende loon.
3Hoe lank sal goddeloses, o Here,
hoe lank sal goddeloses jubel?
4Hulle laat woorde
onbeskaamd uitborrel;
almal wat onreg pleeg,
prys hulleself aan.
5Hulle verpletter u volk, Here,
hulle verdruk u erfdeel.
6Hulle maak weduwees
en •vreemdelinge dood,
hulle vermoor vaderlose kinders.
7Dan sê hulle nog:
“Die Here sien dit nie,
die God van Jakob merk dit nie op nie.”
8Sien dit tog in, julle
onverstandiges onder die volk!
En dwase, wanneer word julle wys?
9Hy wat die oor inplant,
sal Hy nie kan hoor nie,
of Hy wat die oog vorm,
sal Hy nie kan sien nie?
10Hy wat nasies vermaan,
sal Hy nie straf nie,
Hy wat aan mense kennis oordra?
11 Die Here ken mense se gedagtes,
dat dit nietigheid is.
12Gelukkig is die mens
vir wie U teregwys, Here,
vir wie U leer uit u wet,
13om aan hom verligting te gee
in dae van onheil,
totdat 'n graf gegrawe is
vir goddeloses.
14Ja, die Here sal sy volk
nie in die steek laat nie;
sy erfdeel sal Hy nie laat vaar nie.
15Want die regspraak sal weer
regverdig wees
en almal met opregte harte sal dit steun.
16Wie sal vir my opstaan
teen kwaaddoeners?
Wie sal vir my in die bres tree
teen hulle wat onreg pleeg?
17As die Here nie my hulp was nie,
sou ek spoedig in die stilte
gewoon het.
18As ek dink my voet gaan swik,
dan ondersteun
u troue liefde my, Here.
19 Wanneer ontstellende gedagtes
meer word in my binneste,
dan beur u vertroosting my op.
20Kan die setel van vernietiging
wat die wet skade aandoen,
aan U verbonde wees?
21Hulle span saam teen die lewe
van regverdiges,
hulle verklaar onskuldige bloed skuldig.
22Maar die Here het vir my
'n toevlugsoord geword,
my God het my rotsskuiling geword.
23En Hy sal hulle onreg na hulle
laat terugkeer,
met hulle eie kwaad sal Hy hulle
vernietig;
die Here ons God sal hulle vernietig.

Tans Gekies:

Psalms 94: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid