Psalms 89:14-37

Psalms 89:14-37 AFR20

U het 'n magtige arm; u hand is sterk, u regterhand is verhewe. Reg en •geregtigheid is die grondslag van u troon; troue liefde en waarheid gaan U tegemoet. Gelukkig is die volk wat uitroepe van vreugde ken, wat in die lig van u teenwoordigheid loop, HERE! In u Naam juig hulle die hele dag, in u geregtigheid roem hulle; want U is hulle kragtige sieraad. Deur u aanvaarding het U ons sterk gemaak. Want aan die HERE behoort ons skild, aan die •Heilige van Israel behoort ons koning. U het destyds in 'n visioen 'n belofte gemaak aan u getroue volgelinge. U het gesê: “Ek het hulp verleen aan 'n held, Ek het 'n jong man uit die volk verhoog. Ek het Dawid, my dienskneg, gevind; met my heilige olie het Ek hom gesalf, hom by wie my hand bestendig sal wees; ja, my arm sal hom sterk maak. Vyande sal hom nie onverhoeds betrap nie, en skurke sal hom nie verdruk nie. Sy teenstanders sal Ek voor hom verpletter, en sy haters sal Ek platslaan. My getrouheid en troue liefde sal met hom wees, en in my Naam sal hy sterk word. Ek sal sy hand op die see lê, op die riviere sy regterhand. Hy, hy sal my aanroep, ‘U is my Vader, my God, en die rots wat my verlos.’ Ek sal hom dan •eersgeborene maak, die hoogste van die konings van die aarde. Vir altyd sal Ek vir hom my troue liefde handhaaf; en my verbond sal bestendig wees vir hom. Ek sal sy nageslag vir altyd vestig, en sy troon, solank as die hemel bestaan. “As sy seuns van my wet afwyk, volgens my beslissings nie leef nie; as hulle my vaste voorskrifte ontheilig, my bevele nie nakom nie, sal Ek hulle oortreding met slae straf en hulle sondeskuld met houe. Maar my troue liefde sal Ek nie aan hom onttrek nie, en Ek sal nie my trou verloën nie. Ek sal my verbond nie skend nie en wat oor my lippe gegaan het, nie verander nie. Vir eens en vir altyd het Ek by my heiligheid gesweer; Ek sal nie vir Dawid lieg nie: Sy nageslag sal altyd daar wees en sy troon soos die son voor My