Psalms 78:10-22

Psalms 78:10-22 AFR20

Hulle het nie God se verbond nagekom nie; en sy wet het hulle geweier om te volg. Hulle het sy dade vergeet, sy wonders wat Hy hulle laat sien het. Voor die oë van hulle voorouers het Hy wonders gedoen in Egipteland, op die vlakte van Soan. Hy het die see oopgekloof en hulle laat deurtrek; Hy het die water laat opdam soos 'n wal. Hy het hulle met 'n wolk gelei bedags, en die hele nag met die lig van vuur. Hy het rotse oopgekloof in die woestyn, en hulle baie laat drink, asof daar 'n vloed was. Hy het strome uit die rotswand laat vloei, en water laat afloop soos riviere. Maar hulle het steeds voortgegaan om teen Hom te sondig, om in die dorre streek teen die Allerhoogste opstandig te wees. Hulle het God doelbewus uitgedaag deur kos te vra wat hulle begeer. Hulle het hulle teen God uitgespreek; hulle het gesê: “Kan God 'n tafel dek in die woestyn? Kyk, Hy het 'n rots geslaan en water het uitgestroom, spruite het gevloei. Sou Hy ook brood kon gee of vleis voorberei vir sy volk?” Daarom, toe die HERE dit hoor, het Hy woedend geword, en 'n vuur het uitgebreek teen Jakob. Ook het sy toorn opgevlam teen Israel, omdat hulle nie in God geglo het nie, en nie op sy verlossing vertrou het nie.