Psalms 7:1-17

Psalms 7:1-17 AFR20

'n Sjighajoon. Van Dawid. Wat hy vir die HERE gesing het na aanleiding van die woorde van Kus, 'n Benjaminiet. HERE, my God, by U skuil ek; verlos my van almal wat my agtervolg, en red my, anders verskeur hulle my soos 'n leeu wat sy prooi wegsleep; en daar is niemand wat kan red nie. HERE, my God, as ek iets gedoen het, as daar onreg aan my hande kleef, as ek my vriend kwaad aangedoen het, my teenstander sonder rede beroof het, mag die vyand my dan agtervolg en inhaal, my lewe in die grond vertrap, en my eer deur die modder sleep. •Sela Staan op, HERE, in u toorn, tree op teen die woedebuie van my teenstanders, word wakker, my God; U vel die oordeel! Laat nasies rondom U vergader; keer terug na u verhewe plek bo hulle. Die HERE spreek reg oor volke. Oordeel my op grond van my geregtigheid, HERE, op grond van my onberispelikheid, Verhewene. Beëindig tog die boosheid van goddeloses; maar hou die regverdiges staande, U wat hart en niere toets, o regverdige God! God is my skild, Hy wat die opregtes van hart verlos. God is 'n regverdige regter – 'n God wat elke dag sy verontwaardiging toon. As iemand hom nie bekeer nie, maak Hy sy swaard skerp, span Hy sy boog en lê daarmee aan. Hy maak vir Hom dodelike wapens gereed; Hy maak van sy pyle brandpyle. Kyk, wie bevrug raak met onreg en swanger is van gemeenheid, gee geboorte aan bedrog. Wie 'n put grawe en dit uithol, val in die vangkuil wat hy gemaak het. Sy gemeenheid kom op sy eie kop neer; op sy skedel kom sy geweld neer.