PSALMS 7:1-17

PSALMS 7:1-17 NLV

HERE my God, ek soek u beskerming. Red my van al my vervolgers, red my! Anders sal hulle my toetakel soos ’n leeu, my in stukke skeur sonder dat iemand my red. HERE my God, as ek iets verkeerds gedoen het, as ek skuldig is aan onreg, as ek ’n vriend van my verraai het, my vyand sonder rede beroof het, laat my vyande my agtervolg en vang, my in die grond in vertrap, my eer tot in die stof verneder. Sela Staan op, HERE, in u toorn! Tree op teen my vyande se woede! Kom tot aksie, my God! Laat u geregtigheid seëvier! Laat die nasies om U versamel. Sit op u troon, ver bo hulle verhewe. HERE, U wat regspreek oor die volke, oordeel my, HERE, volgens my regverdigheid en in die lig van my onskuld. Regverdige God wat gedagtes en gevoelens deursoek, maak ’n einde aan die boosheid van die goddelose, maar ondersteun die regverdiges. God is my skild, Hy wat opregtes van hart verlos. God is ’n regverdige regter; God oordeel bose mense daagliks. As iemand nie berou het nie, maak Hy sy swaard skerp. Hy span sy boog en hou dit gereed. Hy het dodelike wapens voorberei en sy vurige pyle is gereed. Hy wat swanger is van sonde, wat verwagtend is van onheil, gee geboorte aan leuens. Hy grawe ’n gat om ander te vang, maar val dan self daarin. Sy boosheid tref homself, sy geweld kom neer op sy eie kop.