Psalms 51:1-12

Psalms 51:1-12 AFR20

Vir die •musiekleier. 'n Psalm. Van Dawid. Toe die profeet Natan na hom gegaan het nadat hy met Batseba omgang gehad het. Wees my genadig, o God, volgens u troue liefde; wis my oortredings uit volgens u groot ontferming. Was my heeltemal skoon van my sondeskuld en reinig my van my sonde want ek is deeglik bewus van my oortredings en my sonde is voortdurend voor my. Teen U, teen U alleen, het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë, sodat U gelyk sal hê as U uitspraak lewer, volkome reg wanneer U oordeel. Kyk, in sondeskuld is ek gebore, sondig toe my moeder met my swanger geraak het. Kyk, getrouheid verwag u reeds in die moederskoot, in die verborgenheid leer U my wysheid. Neem my sonde weg met marjolein sodat ek rein kan wees, was my, dan sal ek witter as sneeu wees. Laat my weer uitroepe van vreugde en blydskap hoor; laat die gebeente wat U verbrysel het, juig. Sluit u oë vir my sonde, en al my sondeskuld, wis dit uit! Skep 'n rein hart vir my, o God, vernuwe 'n bestendige gees in my binneste.

Video for Psalms 51:1-12