Prys die HERE, roep sy Naam uit;
maak onder die volke sy dade bekend.
Sing vir Hom, besing Hom!
Praat met oorgawe
oor al sy wonderwerke.
Beroem julle in sy •heilige Naam;
laat die harte van hulle
wat die HERE opsoek, bly wees.
Soek die HERE en sy krag,
soek voortdurend
sy teenwoordigheid op.
Roep die wonders wat Hy
gedoen het in herinnering,
sy tekens en die oordele
van sy mond –
nageslag van Abraham,
sy dienskneg,
kinders van Jakob, sy uitverkorenes!
Hy is die HERE ons God;
oor die hele wêreld geld sy beslissings.
Hy onthou vir altyd sy verbond,
die woord wat Hy beveel het,
vir duisend geslagte,
wat Hy gesluit het met Abraham
en met 'n eed beloof het aan Isak.
Hy het dit aan Jakob bevestig
as 'n vaste voorskrif,
aan Israel as 'n ewige verbond,
met die woorde:
“Aan jou sal Ek die land Kanaän
gee as julle afgemete erfdeel.”
Toe hulle nog min in getal was,
baie min,
en hulle •vreemdelinge in die land was,
het hulle van een nasie
na die ander geswerf,
van een koninkryk na 'n ander volk.
Hy het geen mens toegelaat
om hulle te verdruk nie.
Hy het konings oor hulle tereggewys:
“Moenie aan my gesalfdes raak nie;
my profete moet julle
geen kwaad aandoen nie.”
Hy het hongersnood uitgeroep
oor die land;
elke stok vir brood het Hy gebreek.
Hy het iemand voor hulle uit gestuur;
as 'n slaaf is Josef verkoop.
Mense het sy voete in boeie geklem,
'n yster is om sy nek gesit
tot die tyd toe sy woord vervul is.
Die woord van die HERE
het hom gelouter.
Die koning het 'n boodskap gestuur
en hy is losgelaat;
die heerser van volke het hom vrygelaat.
Hy het hom heer oor sy huis gemaak,
en heerser oor alles wat hy besit,
om sy •hoë amptenare
na willekeur te beperk,
en sy oudstes wysheid te leer.
Israel het in Egipte aangekom,
Jakob was 'n •vreemdeling
in die land van Gam.
Die HERE het sy volk
baie vrugbaar gemaak;
Hy het hulle magtiger gemaak
as hulle teenstanders,
wie se harte Hy verander het
om sy volk te haat,
om slu op te tree
teen sy diensknegte.
Hy het sy dienskneg Moses gestuur,
ook Aäron wat Hy uitgekies het.
Hulle het onder hulle
sy aangekondigde tekens uitgevoer,
en wonders in die land van Gam.
Hy het duisternis gestuur,
dit donker gemaak –
was hulle dan nie opstandig
teen sy woorde nie?
Hy het hulle water in bloed verander,
hulle vis laat doodgaan.
Hulle land was oortrek met paddas,
tot in die slaapkamers
van hulle koninklikes.
Hy het gepraat,
en daar het steekvlieë gekom,
muggies in hulle hele gebied.
Hy het hulle reënbuie hael gemaak,
met weerligstrale in hulle land.
Dit het hulle wingerde
en vyebome platgeslaan,
die bome in hulle gebied verniel.
Hy het gepraat,
en daar het treksprinkane
gekom, ontelbare voetgangers.
Dit het al die plante in hulle land
kaal gevreet;
dit het die opbrengs van hulle
landerye opgevreet.
Hy het al die •eersgeborenes
in hulle land getref,
die eerstelinge van al
hulle manlike krag.
Hy het sy volk laat wegtrek
met silwer en goud;
onder sy stamme was daar niemand
wat struikel nie.
Egipte was bly toe hulle wegtrek,
want vrees vir sy volk het hulle oorval.
Hy het 'n wolk uitgesprei
as bedekking,
en 'n vuur om die nag te verlig.
Hulle het gevra,
en Hy het kwartels laat kom;
met brood uit die hemel
het Hy hulle versadig.
Hy het 'n rots oopgemaak,
en water het gevloei;
dit het soos 'n rivier
deur die dorre streek geloop.
Ja, Hy het sy •heilige belofte
aan Abraham, sy dienskneg, onthou.
Hy het sy volk laat wegtrek
met vreugde,
sy uitverkorenes met jubelkrete.
Hy het aan hulle die landstreke
van volke gegee.
Wat nasies met moeite verkry het,
het hulle in besit geneem,
sodat hulle sy vaste
voorskrifte kan nakom
en by sy wette kan hou.