Psalms 103:15-22

Psalms 103:15-22 AFR20

'n Mens, soos gras is sy lewensdae, soos 'n veldblom, so bloei hy. As die wind oor hom waai, is hy nie meer daar nie en sy plek ken hom nie meer nie. Maar die troue liefde van die HERE is van altyd af en vir ewig oor hulle wat vir Hom ontsag het, en sy geregtigheid geld vir die kinders se kinders, vir hulle wat sy verbond hou, en vir hulle wat sy opdragte in gedagte hou, om dit uit te voer. Die HERE het in die hemel sy troon gevestig, en sy heerskappy strek oor alles. Prys die HERE, julle wat sy boodskappers is, sterk helde wat sy woord uitvoer deur sy bevel te gehoorsaam. Loof die HERE, al sy hemelse magte, sy dienaars wat sy wil volbring. Loof die HERE, alles wat Hy gemaak het, op al die plekke waar Hy heers! Loof die HERE, o my siel!