Filippense 3:8-16

Filippense 3:8-16 AFR20

Inderdaad reken ek alles as verlies, ter wille van die uitnemendheid daarvan om Christus Jesus, my Here, te ken. Ter wille van Hom, het alles vir my 'n verlies geword, en beskou ek dit as vullis, sodat ek Christus as wins kan verkry, en in Hom bevind kan word – nie met my eie geregtigheid op grond van die wet nie, maar met die geregtigheid deur geloof in Christus, die regverdiging wat van God kom, deur die geloof – en sodat ek Christus kan ken, die krag van sy opstanding, en die verbondenheid met sy lyding, deur aan sy dood gelykvormig te word, en ek so, hoe dan ook, die opstanding uit die dood kan bereik. Nie dat ek dit al verkry het of reeds volmaak is nie, maar ek streef daarna om dit my eie te maak, omdat Christus Jesus my reeds sy eie gemaak het. Broers, ek reken nie dat ek dit self reeds my eie gemaak het nie, maar een ding doen ek: Ek vergeet die dinge wat agter is, en strek my uit na wat voorlê. Ek beur voort na die wenstreep, om in Christus Jesus die prys van God se roeping van omhoog te bekom. Laat ons, wat geestelik volwasse is, so hieroor dink; maar as julle anders hieroor dink, sal God dit wel aan julle bekend maak. In elk geval, laat ons die pas volhou in ooreenstemming met dit wat ons bereik het.