Filippense 2:5-18

Filippense 2:5-18 AFR20

Laat dan die gesindheid wat daar in Christus Jesus was, ook in julle wees: Hoewel Hy in die gestalte van God was, het Hy gelykheid aan God nie beskou as iets om aan vas te klem nie, maar Hy het Homself daarvan leeggemaak, deur die gestalte van 'n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy in die vorm van 'n mens verskyn het, het Hy Homself verneder, deurdat Hy gehoorsaam geword het tot die dood toe, ja, die dood aan die kruis. Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en aan Hom die Naam geskenk wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elke knie sal buig – van diegene in die hemel en op die aarde en onder die aarde – en elke tong sal bely, “Jesus Christus is die Here!” tot eer van God die Vader. Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam was – nie net in my teenwoordigheid nie, maar nou ook nog veel meer in my afwesigheid – werk met vrees en bewing aan julle verlossing. Want Hy wat die gewilligheid en die optrede in julle bewerk soos Hy dit goedvind, is God. Doen alles sonder kla en teenpraat, sodat julle sonder blaam en onskuldig kan wees, kinders van God, smetteloos, te midde van 'n krom en ontaarde geslag. Julle skyn onder hulle soos sterre in die heelal, deurdat julle vashou aan die woord van die lewe. Op hierdie manier sal julle op die dag van •Christus my rede tot roem wees, sodat ek nie vergeefs gehardloop of my vergeefs ingespan het nie. Maar al word ek ook as •drankoffer uitgegiet oor die offer en bediening van julle geloof, verbly ek my, en verbly ek my saam met julle almal. Verbly julle ook so, ja, verbly julle saam met my.