Ek bid juis dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in kennis en insig, om die dinge wat saak maak, te kan onderskei, sodat julle, met die oog op die dag van Christus, innerlik suiwer en onberispelik kan wees, gevul met die vrug van •geregtigheid deur Jesus Christus tot verheerliking en lof van God. Broers, ek wil hê julle moet weet dat wat met my gebeur het, in werklikheid tot bevordering van die evangelie gelei het. Sodoende het dit by die hele pretorium en al die ander bekend geword dat ek ter wille van •Christus in gevangenskap verkeer. Ook waag die meeste van die broers in die Here, omdat hulle as gevolg van my gevangenskap vertroue verkry het, dit baie meer om die woord vreesloos te verkondig. Sommige verkondig Christus wel uit jaloesie en twisgierigheid, ander egter uit goedgesindheid. Hulle doen dit uit liefde, omdat hulle weet dat ek bestem is om die evangelie te verdedig, maar die ander verkondig Christus uit selfsugtige ambisie – nie met opregte motiewe nie, maar met die bedoeling om vir my in my gevangenskap verdrukking te veroorsaak. Wat maak dit egter saak? In elke geval, of dit met bybedoelings of in waarheid is, word Christus verkondig – en daaroor is ek vol blydskap. Ja, ek sal voortdurend bly wees, want ek weet dat dit alles tot my verlossing sal lei, omdat julle vir my bid, en die Gees van Jesus Christus my ondersteun. Dit is immers my innige verwagting en hoop dat ek nie in enige opsig beskaam sal word nie, maar dat Christus met alle vrymoedigheid ook nou, soos altyd, deur my liggaam verheerlik sal word, of dit nou deur my lewe of deur my dood is.
Lees Filippense 1
Deel
Vergelyk alle weergawes: Filippense 1:9-20
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's