Numeri 25

25
Aanbidding van Baäl-Peor
1 Terwyl Israel in Sittim oorgebly het, het die volk begin om met Moabitiese vroue te hoereer. 2 Die vroue het die volk na die offers van hulle gode genooi, en die volk het van die offers geëet en voor hulle gode in aanbidding gebuig. 3 Toe Israel homself aan Baäl-Peor verbind, het die toorn van die Here teen Israel ontbrand. 4Die Here het vir Moses gesê: “Neem al die leiers van hierdie mense en hang hulle in die son aan pale, vir die Here, sodat die brandende toorn van die Here van Israel afgeweer word.” 5 Moses het vir die regters van Israel gesê: “Elkeen van julle moet sy manne wat hulle aan Baäl-Peor verbind het, doodmaak.”
6 Juis toe kom 'n Israelitiese man en bring 'n Midianitiese vrou na sy volksgenote – en dit voor die oë van Moses en die hele volksvergadering van die Israeliete, terwyl hulle by die ingang van die •Tent van Ontmoeting staan en huil. 7 Toe Pinehas, seun van Eleasar, seun van die priester Aäron, dit sien, het hy daar in die volksvergadering opgestaan en 'n steekspies gevat. 8Hy het agter die Israelitiese man in die vrouetent ingegaan, en hy het al twee deurboor, die Israelitiese man en die vrou, tot in haar maag. Die plaag onder die Israeliete het toe opgehou. 9Dié wat deur die plaag gesterf het, was vier-en-twintigduisend.
10Die Here het met Moses gepraat en gesê: 11“ Pinehas, seun van Eleasar, seun van die priester Aäron, het my woede van die Israeliete weggekeer deurdat hy onder hulle sy ywer getoon het vir my heilige jaloesie, sodat Ek nie die Israeliete in my heilige jaloesie vernietig het nie. 12 Sê daarom, ‘Kyk, Ek bied vir hom my verbond van vrede aan. 13Dit sal vir hom en sy nageslag ná hom 'n verbond van ewige priesterskap wees, omdat hy ywer vir sy God getoon het en versoening gedoen het vir die Israeliete.’ ”
14Die naam van die Israelitiese man wat doodgemaak is, wat saam met die Midianitiese vrou doodgemaak is, was Simri, seun van Salu, 'n leier uit die familie van Simeon. 15Die naam van die Midianitiese vrou wat doodgemaak is, was Kosbi, dogter van Sur. Hy was die stamhoof van 'n familie in Midian.
16 Die Here het met Moses gepraat en gesê: 17“Beskou die Midianiete as vyande en maak hulle dood, 18want hulle het teenoor julle vyandig opgetree deur die slinkse planne wat hulle teen julle gesmee het in die saak van Peor en in die saak van Kosbi, hulle landgenoot, die dogter van die Midianitiese leier – sy wat doodgemaak is op die dag van die plaag wat gevolg het op die gebeure by Peor.”

Tans Gekies:

Numeri 25: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

Videos for Numeri 25