Nehemia 5:6-13

Nehemia 5:6-13 AFR20

Ek was baie kwaad toe ek hulle noodkreet en hierdie woorde hoor. Ek het in my hart daaroor nagedink, en toe die hoëlui en gesagsdraers verwyt en vir hulle gesê: “Elkeen van julle leen sowaar teen woekerrente aan sy volksgenoot. ” Ek het toe 'n groot byeenkoms teen hulle saamgeroep en vir hulle gesê: “Ons het self ons volksgenote, die Judeërs, wat aan die nasies verkoop was, na ons vermoë teruggekoop, maar julle verkoop ook julle volksgenote, sodat hulle aan ons verkoop moet word.” Hulle was doodstil en kon nie 'n antwoord vind nie. Verder het ek gesê: “Wat julle doen, is nie goed nie. Moet julle nie met ontsag vir ons God optree om die gespot van die nasies, ons vyande, te vermy nie? Ook ek, my broers en my werkers het aan volksgenote geld en koring geleen. Laat ons maar hierdie woekerrente kwytskeld. Gee tog vandag nog hulle landerye, wingerde, olyfboorde en huise aan hulle terug, en ook die rente op die geld, koring, •nuwe wyn en olie wat julle aan hulle geleen het.” Daarop het hulle gesê: “Ons sal dit teruggee en van hulle niks eis nie. Ons sal presies maak soos jy gesê het.” Ek het toe die priesters ontbied en daardie mense 'n eed laat aflê om ooreenkomstig hierdie onderneming op te tree. Ek het ook die vou van my kleed uitgeskud en gesê: “Net so sal God elke man uitskud wat nie hierdie woord gestand doen nie – uit sy huis en uit sy besittings. Mag hy so uitgeskud en leeg wees.” Die hele byeenkoms het gesê “Amen!” en hulle het die HERE geloof. Die volk het woord gehou.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Nehemia 5:6-13