Toe ek hulle klagtes hoor en al die dinge wat hulle sê, was ek baie kwaad. Nadat ek dit goed oordink het, het ek die leiers en amptenare aangespreek en vir hulle gesê: “Julle buit julle eie mense uit deur geld teen rente aan hulle te leen!” Ek het toe ’n groot openbare vergadering oor die probleem belê. By die vergadering het ek vir hulle gesê: “Ons het ons bes gedoen om ons Joodse volksgenote wat hulleself aan vreemde volke moes verkoop, vry te kry. Nou verkoop julle julle eie mense weer as slawe en ons moet hulle terugkoop!” Hulle was stil en het nie ’n woord gesê nie. Ek het voortgegaan en gesê: “Wat julle doen, is nie reg nie! Behoort julle leefwyse nie te wys dat julle ons God respekteer nie? Die vyandige volke sou dan mos nie rede gehad het om julle te minag nie. Ek, my familie en my werkers het self ook geld en graan aan van die mense geleen. Kom ons hou nou op om op hierdie manier geld teen rente uit te leen. “Julle moet vandag nog hulle landerye, wingerde, olyfboorde en huise vir hulle teruggee. Betaal ook die rente terug wat julle op hulle geld, graan, wyn en olyfolie gehef het.” Hulle het toe gesê: “Ons sal maak soos u sê. Ons sal alles teruggee en niks meer van hulle eis nie.” Ek het die priesters geroep en die leiers en amptenare ’n eed laat sweer dat hulle sal doen wat hulle beloof het om te doen. Toe het ek ook my sakke uitgeskud en gesê: “Mag God julle net so uitskud uit julle huise en julle eiendom as julle nie julle belofte nakom nie!” Die vergadering het heelhartig daarmee saamgestem en die HERE geprys. Die mense het hulle beloftes nagekom.
Lees NEHEMIA 5
Luister na NEHEMIA 5
Deel
Vergelyk alle weergawes: NEHEMIA 5:6-13
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's