Nehemia 5:1-13

Nehemia 5:1-13 AFR20

Daar het 'n groot noodkreet onder die volk opgeklink, ook onder hulle vroue, gerig teen hulle Judese volksgenote. Daar was dié wat gesê het: “Saam met ons seuns en ons dogters is ons baie; ons moet koring kry, sodat ons kan eet en aan die lewe bly.” Dan was daar dié wat gesê het: “Ons landerye, ons wingerde en ons huise moes ons verpand, sodat ons koring kon koop in die hongersnood.” Ander weer het gesê: “Ons het geld geleen teen ons landerye en wingerde vir die belasting aan die koning. Daarom dan, ons is dieselfde vlees en bloed as ons volksgenote, en ons kinders is soos hulle kinders; maar kyk, ons moes ons seuns en dogters aan slawerny onderwerp. Daar is van ons dogters wat verneder is, maar ons hande was afgekap. Ons landerye en wingerde behoort aan ander.” Ek was baie kwaad toe ek hulle noodkreet en hierdie woorde hoor. Ek het in my hart daaroor nagedink, en toe die hoëlui en gesagsdraers verwyt en vir hulle gesê: “Elkeen van julle leen sowaar teen woekerrente aan sy volksgenoot. ” Ek het toe 'n groot byeenkoms teen hulle saamgeroep en vir hulle gesê: “Ons het self ons volksgenote, die Judeërs, wat aan die nasies verkoop was, na ons vermoë teruggekoop, maar julle verkoop ook julle volksgenote, sodat hulle aan ons verkoop moet word.” Hulle was doodstil en kon nie 'n antwoord vind nie. Verder het ek gesê: “Wat julle doen, is nie goed nie. Moet julle nie met ontsag vir ons God optree om die gespot van die nasies, ons vyande, te vermy nie? Ook ek, my broers en my werkers het aan volksgenote geld en koring geleen. Laat ons maar hierdie woekerrente kwytskeld. Gee tog vandag nog hulle landerye, wingerde, olyfboorde en huise aan hulle terug, en ook die rente op die geld, koring, •nuwe wyn en olie wat julle aan hulle geleen het.” Daarop het hulle gesê: “Ons sal dit teruggee en van hulle niks eis nie. Ons sal presies maak soos jy gesê het.” Ek het toe die priesters ontbied en daardie mense 'n eed laat aflê om ooreenkomstig hierdie onderneming op te tree. Ek het ook die vou van my kleed uitgeskud en gesê: “Net so sal God elke man uitskud wat nie hierdie woord gestand doen nie – uit sy huis en uit sy besittings. Mag hy so uitgeskud en leeg wees.” Die hele byeenkoms het gesê “Amen!” en hulle het die HERE geloof. Die volk het woord gehou.