Nehemia 13:15-22

Nehemia 13:15-22 AFR20

In daardie tyd het ek in Juda mense gesien wat op die Sabbat druiwe uittrap in parskuipe, en graangerwe inbring wat hulle op donkies gelaai het, ook wyn, druiwe, vye en allerhande ander vragte, en dit dan in Jerusalem inbring op die Sabbatdag. Ek het hulle dadelik tereggewys oor hulle verkoop van lewensmiddele. Die mense van Tirus wat in die stad woon, het vis en allerhande koopware ingebring en dit op die Sabbat verkoop aan die Judeërs – en dit in Jerusalem! Ek het die hoëlui van Juda verwyt, en vir hulle gevra: “Wat is hierdie bose ding wat julle aanvang? Julle ontheilig die Sabbatdag! Het julle voorouers nie net so gemaak nie? Ons God het al hierdie onheil toe oor ons en oor hierdie stad gebring. Julle vermeerder die toorngloed oor Israel deur die Sabbat te ontheilig.” Net toe dit voor die Sabbat donker geword het by die poorte van Jerusalem, het ek opdrag gegee, en die poortdeure is gesluit. Ek het ook opdrag gegee dat dit nie oopgemaak moes word tot ná die Sabbat nie, en van my werkers het ek by die poorte aangestel, sodat geen vrag op die Sabbatdag sou inkom nie. Toe het die handelaars en verkopers van allerhande koopware 'n paar keer buite Jerusalem oornag. Ek het hulle tereggewys en vir hulle gevra: “Waarom oornag julle langs die muur? As julle dit weer doen, sal ek julle laat verwyder. ” Van toe af het hulle nie meer op die Sabbat gekom nie. Ek het toe vir die Leviete gesê dat hulle hulleself telkens moet reinig en die poorte moet kom bewaak, om sodoende die Sabbatdag heilig te hou. Ook hieroor, my God, moet U tog aan my dink en besorg oor my wees, ooreenkomstig u oorvloedige troue liefde.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Nehemia 13:15-22