Markus 9:1-8

Markus 9:1-8 AFR20

En Hy het vir hulle gesê: “•Amen, Ek sê vir julle dat daar sommige van julle is wat hier staan, wat beslis nie die dood sal smaak voordat hulle die koningsheerskappy van God met krag sien kom het nie. ” Ses dae later neem Jesus vir •Petrus, Jakobus en Johannes saam en lei hulle teen 'n hoë berg uit waar hulle heeltemal alleen was. Hy het toe voor hulle van gedaante verander. Sy klere het blink geword, spierwit, so wit soos niemand op aarde iets kan bleik nie. Toe het Elia saam met Moses aan hulle verskyn, en hulle was besig om met Jesus te praat. Petrus reageer toe en sê vir Jesus: “Rabbi, dit is goed dat ons hier is. Laat ons drie hutte bou: een vir U, een vir Moses en een vir Elia.” Hy het immers nie geweet wat hy moet sê nie, want hulle was totaal verskrik. Daar kom toe 'n wolk wat 'n skaduwee oor hulle gooi, en uit die wolk kom daar 'n stem: “Dit is my Seun, my geliefde, luister na Hom! ” Toe hulle rondkyk, sien hulle skielik niemand behalwe net Jesus by hulle nie.