Toe daar gedurende daardie dae weer 'n groot skare was en hulle niks gehad het om te eet nie, het Jesus die dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “Ek voel innig jammer vir die skare, want hulle is reeds drie dae by My en het niks om te eet nie. As Ek hulle honger huis toe stuur, sal hulle op pad beswyk. Sommige van hulle kom immers van ver af.” Sy dissipels het Hom egter geantwoord: “Waar in hierdie verlate plek sal mens brood kan kry om hulle te versadig?” Hy vra hulle toe: “Hoeveel brode het julle?” Hulle antwoord: “Sewe.” Toe beveel Hy die skare om op die grond te gaan sit. Nadat Hy die sewe brode geneem en gedank het, breek Hy dit en gee vir sy dissipels om voor te sit, en hulle het dit aan die skare voorgesit. Hulle het ook 'n paar vissies gehad. Nadat Hy die seëngebed daaroor uitgespreek het, het Hy gesê dat hulle ook dit moet voorsit. Die mense het geëet en versadig geword, en van die stukke wat oorgebly het, sewe mandjies vol opgetel. Daar was ongeveer vierduisend mense. Daarna het Hy hulle weggestuur. Hy het dadelik in 'n boot geklim en saam met sy dissipels na die streek van Dalmanuta gegaan.
Die •Fariseërs het na vore getree en begin om met Hom te redeneer. Om Hom te toets, het hulle Hom 'n teken uit die hemel gevra. Hy het in sy binneste diep gesug en gesê: “Waarom vra hierdie geslag 'n teken? •Amen, Ek sê vir julle: Aan hierdie geslag sal beslis geen teken gegee word nie.” Hy het hulle verlaat, weer in die skuit geklim en na die oorkant vertrek.
Hulle het vergeet om brode saam te neem. Behalwe 'n brood, het hulle niks anders by hulle in die boot gehad nie. Jesus het hulle gewaarsku: “Pasop, wees op julle hoede vir die suurdeeg van die •Fariseërs en die suurdeeg van Herodes. ”
Hulle het toe onder mekaar bespiegel dat dit is omdat hulle nie brood het nie. Bewus hiervan, sê Hy vir hulle: “Waarom redekawel julle daaroor dat julle nie brood het nie? Verstaan julle nie en begryp julle nie? Het julle steeds verharde harte?
“Het julle oë, en sien julle nie?
Het julle ore, en hoor julle nie?
“En onthou julle nie toe Ek die vyf brode vir die vyfduisend gebreek het, hoeveel mandjies vol stukke julle opgetel het nie?” Hulle antwoord Hom: “Twaalf.” “En toe Ek die sewe brode vir die vierduisend gebreek het, hoeveel mandjies vol stukke wat oorgebly het, het julle toe opgetel?” Hulle antwoord Hom: “Sewe.” Hy sê toe vir hulle: “Begryp julle steeds nie?”
Hulle kom toe in Betsaida aan. Die mense het 'n blinde man na Jesus gebring en Hom gesmeek om hom aan te raak. Toe vat Hy die blinde man aan die hand en lei hom uit die dorp uit weg. En nadat Hy op sy oë gespoeg en sy hande op hom geplaas het, vra Hy hom: “Sien jy iets?” Die man het opgekyk en gesê: “Ek sien die mense. Ek sien hulle rondloop soos bome.” Daarop sit Jesus weer sy hande oor die man se oë, en het sy oë oopgemaak, en hy was genees en kon alles duidelik sien. Jesus het hom huis toe gestuur en gesê: “Moenie in die dorp ingaan nie.”
Jesus en sy dissipels het na die dorpe van Caesarea-Filippi vertrek. Op pad het Hy vir sy dissipels gevra: “Wie sê die mense is Ek?” Hulle antwoord Hom: “Johannes die Doper; ander sê Elia, en nog ander sê een van die profete.” Hy vra hulle toe: “Maar julle, wie sê julle is Ek?” •Petrus antwoord Hom: “U is die Christus.” Jesus het hulle toe opdrag gegee om niemand van Hom te vertel nie.
Hy het begin om hulle te leer dat die •Seun van die Mens baie moet ly, deur die familiehoofde, leierpriesters en skrifkenners verwerp en doodgemaak moet word, en ná drie dae moet opstaan. Hy het openlik hieroor gepraat. •Petrus het Hom eenkant toe geneem en Hom begin berispe. Maar Hy het omgedraai, na sy dissipels gekyk en Petrus berispe: “Gaan weg agter my, Satan! Want jy bedink nie die dinge van God nie, maar die dinge van mense.”