Markus 3:1-12

Markus 3:1-12 AFR20

Jesus het weer die •sinagoge binnegegaan. Daar was 'n man met 'n verdorde hand. Hulle het Hom dopgehou om te sien of Hy hom op die Sabbat sou gesond maak, sodat hulle Hom kon aankla. Hy sê toe vir die man met die verdorde hand: “Kom staan hier tussen hulle!” En Hy sê vir hulle: “Is dit toelaatbaar om op die Sabbat goed te doen, of sleg te doen, om 'n lewe te red, of om dood te maak?” Hulle het egter stilgebly. Nadat Hy woedend in die rondte na hulle gekyk het, diep bedroef oor die hardheid van hulle harte, sê Hy vir die man: “Steek uit jou hand!” Die man het sy hand uitgesteek, en dit het gesond geword. Die •Fariseërs het toe uitgegaan en dadelik saam met die Herodiane planne teen Hom beraam, sodat hulle Hom om die lewe kon bring. Jesus het saam met sy dissipels na die see teruggegaan, en 'n groot menigte uit Galilea het Hom gevolg. Ook uit Judea, Jerusalem, Idumea, van oorkant die Jordaan, en uit die omgewing van Tirus en Sidon, het 'n groot menigte na Hom gekom toe hulle hoor wat Hy alles doen. Hy het toe vir sy dissipels opdrag gegee om vir Hom 'n skuit gereed te hou om te voorkom dat die skare Hom vertrap. Hy het immers baie mense gesond gemaak, sodat almal wat aan kwale gely het, om Hom saamgedrom het om aan Hom te raak. En die •onrein geeste het elke keer wanneer hulle Hom sien, voor Hom neergeval en hard geskree: “U is die •Seun van God!” Hy het hulle uitdruklik opdrag gegee om Hom nie bekend te laat word nie.