Markus 16:1-20

Markus 16:1-20 AFR20

Toe die Sabbat verby was, het Maria Magdalena, Maria, die moeder van Jakobus, en Salome geurige speserye gekoop, sodat hulle Hom kon gaan salf. Baie vroeg op die eerste dag van die week, kom hulle by die graf, net nadat die son opgekom het. Hulle sê toe vir mekaar: “Wie sal vir ons die klip van die ingang van die graf af wegrol?” Maar toe hulle opkyk, sien hulle dat die klip reeds weggerol was – dit was 'n baie groot klip. Toe hulle die graf binnegaan, het hulle 'n jong man met 'n lang wit stola om aan die regterkant sien sit, en hulle was ontsteld. Maar hy sê vir hulle: “Moenie ontsteld wees nie. Julle soek Jesus van Nasaret, wat gekruisig is. Hy is opgewek! Hy is nie hier nie. Kyk, hier is die plek waar hulle Hom neergelê het. Maar gaan sê vir sy dissipels en vir •Petrus, ‘Hy gaan voor julle uit na Galilea. Daar sal julle Hom sien, soos Hy vir julle gesê het.’ ” Hulle het uitgegaan en van die graf af weggehardloop, want bewing en verbystering het hulle beetgepak. En hulle het vir niemand iets gesê nie, want hulle was bang. Nadat Jesus vroeg die oggend op die eerste dag van die week opgestaan het, het Hy eerste verskyn aan Maria Magdalena, uit wie Hy voorheen sewe demone uitgedryf het. Sy het dit gaan vertel vir die mense wat by Hom was, terwyl hulle treur en huil. Toe hulle hoor dat Hy leef en sy Hom gesien het, het hulle dit nie geglo nie. Hierna het Hy in 'n ander gestalte aan twee van hulle verskyn terwyl hulle op pad was na die platteland. Hulle het dit vir die res gaan vertel, maar dié het hulle ook nie geglo nie. Later het Hy aan die elf verskyn terwyl hulle vir ete aangeleun het. Hy het hulle verwyt oor hulle ongeloof en hardheid van hart, omdat hulle die mense wat gesien het dat Hy opgewek is, nie geglo het nie. Hy sê toe vir hulle: “Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die hele mensdom. Wie tot geloof gekom het en gedoop is, sal verlos word; maar wie nie tot geloof gekom het nie, sal veroordeel word. Hierdie tekens sal hulle wat tot geloof gekom het, vergesel: In my Naam sal hulle demone uitdryf, in nuwe tale praat, en slange met hulle hande optel. As hulle iets dodeliks sou drink, sal dit hulle nie kwaad aandoen nie, en op siekes sal hulle die hande lê, en hulle sal gesond word.” Nadat die Here Jesus met hulle gepraat het, is Hy in die hemel opgeneem en het aan die regterhand van God gaan sit. Hulle het toe uitgegaan en oral gepreek. Die Here het met hulle meegewerk en die prediking bevestig met wondertekens wat daarop gevolg het. •Amen.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Markus 16:1-20

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid