Toe kom hulle by 'n plek met die naam Getsemane, en Jesus sê vir sy dissipels: “Bly hier sit totdat Ek klaar gebid het.” Hy neem toe vir •Petrus, Jakobus en Johannes saam met Hom. Hy het erg ontsteld en beangs begin word, en sê toe vir hulle: “My siel is diep bedroef, tot die dood toe. Bly hier en waak.” Hy het 'n entjie verder gegaan, op die grond neergeval en gebid dat, as dit moontlik is, die uur by Hom moet verbygaan. Hy het gesmeek: “ Abba, Vader, alle dinge is vir U moontlik. Neem hierdie beker van My af weg – nogtans nie wat Ek wil nie, maar wat U wil. ” Hy kom en vind hulle toe aan die slaap, en sê vir Petrus: “Simon, slaap jy? Was jy nie in staat om een uur lank te waak nie? Waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.” Hy het weer gaan bid en dieselfde woorde gesê. Toe Hy terugkom, vind Hy hulle weer aan die slaap, want hulle oë het swaar geword. Hulle het nie geweet wat om Hom te antwoord nie. Hy kom toe 'n derde keer en sê vir hulle: “Slaap en rus julle nog steeds? Genoeg! Die uur het gekom. Kyk, die •Seun van die Mens word in die hande van sondaars oorgelewer. Staan op, laat ons gaan! Kyk, die een wat My verraai, is naby!”
En dadelik, terwyl Jesus nog praat, daag Judas, een van die twaalf, daar op. En saam met hom was daar 'n menigte, met swaarde en knuppels, gestuur deur die leierpriesters, skrifkenners en familiehoofde. Sy verraaier het vir hulle 'n teken gegee: “Die een wat ek soen, dit is hy. Gryp hom en vat hom weg onder bewaking.” Toe Judas daar aankom, het hy dadelik na Jesus gegaan en gesê, “Rabbi”, en Hom gesoen. Hulle het Hom gegryp en Hom gevange geneem. Een van dié wat naby gestaan het, het sy swaard getrek, die slaaf van die hoëpriester geslaan en sy oor afgekap. Jesus sê toe vir hulle: “Het julle soos teen 'n rower met swaarde en knuppels uitgetrek om My gevange te neem? Dag ná dag was Ek by julle op die tempelterrein besig om onderrig te gee, en julle het My nie gevange geneem nie. Maar laat die Skrifte vervul word!” Almal het Hom in die steek gelaat en weggevlug. Ook 'n sekere jong man met net 'n linnedoek om sy naakte lyf het Hom gevolg. Hulle het hom ook gegryp, maar hy het die linnedoek laat los en nakend weggevlug.
Hulle het Jesus weggelei na die hoëpriester, en al die leierpriesters, familiehoofde en skrifkenners het daar saamgekom. •Petrus het Hom op 'n afstand gevolg tot in die voorhof van die hoëpriester. Hy het saam met die dienspersoneel gesit en hom by die vuur warm gemaak.
Die leierpriesters en die hele Sanhedrin het getuienis teen Jesus gesoek om Hom dood te maak. Hulle kon egter niks vind nie. Baie het vals teen Hom getuig, en die getuienisse het nie met mekaar ooreengestem nie. Sommige het toe opgestaan en valse getuienis teen Hom afgelê deur te sê: “Ons het Hom hoor sê, ‘Ek sal hierdie •tempel, wat met hande gemaak is, afbreek en in drie dae 'n ander bou, wat nie met hande gemaak is nie.’ ” Maar ook hieroor was hulle getuienis nie eenders nie. Die hoëpriester staan toe in hulle midde op en vra vir Jesus: “Antwoord jy dan niks op wat hierdie mense teen jou getuig nie?” Maar Hy het stilgebly en niks geantwoord nie. Die hoëpriester vra Hom toe weer: “Is jy die Christus, die Seun van die Lofwaardige?” Jesus antwoord: “Ek is! En
“julle sal die •Seun van die Mens
sien sit aan die regterhand van die Magtige,
en sien kom met die wolke van die hemel.”
Die hoëpriester skeur toe sy klere en sê: “Waarom het ons nog getuies nodig? Julle het die godslastering gehoor! Wat is julle bevinding?” Hulle almal het geoordeel dat Hy die dood verdien. Sommige het begin om op Hom te spoeg, Hom geblinddoek en Hom met die vuis geslaan, en vir Hom gesê: “Profeteer!” Ook die dienaars het Hom klappe gegee.
Terwyl •Petrus onder in die binnehof was, kom een van die diensmeisies van die hoëpriester, en toe sy vir Petrus sien, besig om homself warm te maak, kyk sy na hom en sê: “Ook jy was saam met Jesus, die Nasarener.” Hy het dit ontken deur te sê: “Ek weet nie waarvan jy praat nie en verstaan ook nie wat jy sê nie.” Hy het buitentoe gegaan na die voorhof toe, en 'n haan het gekraai. Toe die diensmeisie hom sien, het sy vir die mense wat daar naby gestaan het, weer begin sê: “Hierdie man is een van hulle.” En weer het hy dit ontken. Ná 'n kort rukkie het die mense wat daar naby gestaan het, weer vir Petrus gesê: “Sowaar, jy is een van hulle, want jy is ook 'n Galileër.” Hy begin toe vloek, en sweer: “Ek ken nie hierdie man van wie julle praat nie!” En onmiddellik het 'n haan 'n tweede keer gekraai. Toe het Petrus die woorde onthou wat Jesus vir hom gesê het: “Voordat 'n haan twee maal kraai, sal jy My drie keer verloën.” En hy het bitterlik gehuil.