Markus 13:1-22

Markus 13:1-22 AFR20

Toe Hy die tempelterrein verlaat, sê een van sy dissipels vir Hom: “Meester, kyk net watter indrukwekkende klippe en geboue!” Jesus sê toe vir hom: “Sien jy hierdie groot geboue? Hier sal beslis nie een klip op 'n ander gelaat word nie – alles sal afgebreek word. ” Terwyl Jesus op die Olyfberg, regoor die tempelterrein, gesit het, het •Petrus, Jakobus, Johannes en Andreas Hom eenkant gevra: “Sê vir ons, wanneer sal hierdie dinge gebeur, en wat sal die teken wees dat al hierdie dinge volbring sal word?” Jesus het hulle toe geantwoord: “Pasop dat niemand julle mislei nie. Baie sal in my Naam kom en sê, ‘Dit is ek!’ en hulle sal baie mense mislei. Wanneer julle van oorloë en gerugte van oorloë hoor, moet julle nie verskrik raak nie. Dit moet gebeur, maar dit is nog nie die einde nie. Want nasie sal teen nasie in opstand kom, en koninkryk teen koninkryk. Daar sal aardbewings op een plek ná die ander voorkom, en daar sal hongersnood wees. Hierdie dinge is die begin van die smarte. “ Maar wat julle betref, wees op julle hoede! Hulle sal julle aan sanhedrins oorlewer, julle sal in •sinagoges geslaan word en voor prokurators en konings teregstaan ter wille van My, sodat julle voor hulle kan getuig. En die evangelie moet eers aan al die nasies verkondig word. Wanneer hulle julle gevange neem en julle oorlewer, moet julle julle nie vooraf bekommer oor wat julle moet sê nie, maar wat ook al op daardie oomblik aan julle gegee word, dit moet julle sê; want dit is nie julle wat praat nie, maar die Heilige Gees. Broer sal broer aan die dood oorlewer, en 'n vader sy kind. Kinders sal teen hulle ouers in opstand kom en hulle doodmaak. Julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam. Maar wie enduit volhard, dié sal gered word.” “Wanneer julle die gruwel van verwoesting sien staan waar dit nie hoort nie – laat dié wat dit lees, goed begryp – dan moet hulle wat in Judea is, na die berge vlug. Wie op die dakstoep is, moet nie ondertoe gaan of ingaan om iets uit sy huis te gaan haal nie; en wie op sy landerye is, moet nie terugdraai om sy bokleed te gaan haal nie. Wee hulle wat in daardie dae swanger is en borsvoed! Bid dat dit nie in die winter gebeur nie. In daardie dae sal daar 'n verdrukking wees soos daar nog nie was sedert die begin van die skepping wat God geskep het, tot nou toe nie, en beslis ook nie sal wees nie. As die Here daardie dae nie ingekort het nie, sou geen mens gered word nie, maar ter wille van die uitverkorenes, wat Hy uitverkies het, het Hy die dae ingekort.” “As iemand dan vir julle sê, ‘Kyk, hier is die Christus!’ of ‘Kyk daar!’ moet julle dit nie glo nie. Want vals christusse en vals profete sal na vore tree, en hulle sal tekens en wonders doen om, indien moontlik, die uitverkorenes te laat afdwaal.

Video vir Markus 13:1-22