Markus 10:1-12

Markus 10:1-12 AFR20

Jesus het gereedgemaak, daarvandaan vertrek en in die gebied van Judea oorkant die Jordaan aangekom. Die skares stroom toe opnuut na Hom toe, en soos Hy gewoond was, het Hy hulle weer onderrig. Daar het ook •Fariseërs nader gekom en, om Hom te toets, gevra of dit vir 'n man toelaatbaar is om van sy vrou te skei. Hy het hulle geantwoord: “Wat het Moses julle beveel?” Hulle antwoord toe: “Moses het 'n man toegelaat om 'n skeibrief te skryf en te skei. ” Toe sê Jesus vir hulle: “Dit is weens julle harde harte dat hy hierdie reël vir julle neergelê het; ‘maar van die begin van die skepping af het God hulle manlik en vroulik gemaak’. Daarom sal 'n man sy vader en moeder verlaat en aan sy vrou verbind word, en die twee sal een liggaam wees, sodat hulle nie meer twee is nie, maar een. Daarom, wat God saamgevoeg het, moet 'n mens nie skei nie.” Terug in die huis het die dissipels Hom hieroor uitgevra. Hy antwoord hulle toe: “Wie van sy vrou skei en met 'n ander vrou trou, pleeg egbreuk teenoor haar; en as sy van haar man skei en met 'n ander man trou, pleeg sy egbreuk.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor Markus 10:1-12