Markus 1:29-39

Markus 1:29-39 AFR20

Nadat hulle uit die •sinagoge gekom het, het hulle dadelik saam met Jakobus en Johannes na die huis van Simon en Andreas gegaan. Simon se skoonmoeder het siek gelê met koors, en hulle het Hom dadelik van haar vertel. Hy het na haar gegaan, haar hand gevat en haar opgehelp. Die koors het haar verlaat en sy het hulle bedien. Toe dit aand word en die son reeds onder was, het hulle almal wat siek en deur demone besete was, na Hom gebring. Die hele dorp het by die deur saamgedrom. Hy het baie siekes met allerlei kwale gesond gemaak en baie demone uitgedryf. Hy het die demone nie toegelaat om te praat nie, omdat hulle Hom geken het. Vroegoggend, toe dit nog stikdonker was, het Hy opgestaan, buitentoe gegaan en na 'n verlate plek vertrek. Daar het Hy gebid. Simon en dié saam met hom het agter Hom aan gegaan. Toe hulle Hom kry, sê hulle vir Hom: “Almal soek U.” Maar Hy sê vir hulle: “Laat ons êrens anders heen gaan, na die naburige dorpies toe, sodat Ek daar ook kan preek, want daarvoor het Ek gekom.” En Hy het deur die hele Galilea gegaan, in hulle •sinagoges gepreek en demone uitgedryf.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Markus 1:29-39