Matteus 6:1-10

Matteus 6:1-10 AFR20

“Wees op julle hoede dat julle nie julle •geregtigheid voor die mense beoefen om deur hulle gesien te word nie, anders is daar vir julle geen beloning by julle Vader in die •hemele nie. “Wanneer jy liefdadigheid beoefen, moet dit nie uitbasuin soos die skynheiliges in die •sinagoges en in die strate maak, sodat hulle deur mense geëer kan word nie. •Amen, Ek sê vir julle: Hulle het reeds hulle volle beloning ontvang. Maar wanneer jy liefdadigheid beoefen, moet jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie, sodat jou liefdesdaad verborge kan bly. En jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.” “En wanneer julle bid, moet julle nie soos die skynheiliges wees nie, want hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die straathoeke te staan en bid, sodat hulle deur die mense gesien kan word. •Amen, Ek sê vir julle: Hulle het reeds hulle volle beloning ontvang. Maar jy, wanneer jy bid, gaan na jou binneste kamer, maak jou deur toe en bid tot jou Vader wat in die verborgenheid is, en jou Vader wat in die verborgenheid sien, sal jou beloon. “Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene 'n stortvloed woorde gebruik nie, want hulle dink dat hulle op grond van hulle baie woorde verhoor sal word. Moenie soos hulle wees nie, want julle Vader weet wat julle nodig het nog voordat julle Hom vra. “Só moet julle dan bid: “Ons Vader wat in die •hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde.