MATTEUS 6:1-10

MATTEUS 6:1-10 NLV

“Wees versigtig! Moenie julle praktiese godsdiens in die openbaar beoefen sodat almal julle bewonder nie. Anders gaan julle julle beloning by julle hemelse Vader misloop. “Wanneer jy iemand in nood help, moenie ’n groot okkasie daarvan maak nie. Dis wat die skynheiliges in die sinagoges en op die strate doen om deur die mense opgehemel te word. Ek verseker julle, dis al beloning wat hulle ooit sal kry. Maar as jy mense in nood help, doen dit sonder groot vertoon. So sal jou hulpbetoon geheim bly, en jou Vader wat alle geheime ken, sal jou beloon.” “En nou wat die gebed betref: Moenie soos die skynheiliges wees wat daarvan hou om in die sinagoges en op die straathoeke te bid sodat die mense hulle kan sien nie. Ek verseker julle, dit is al beloning wat hulle ooit sal kry. Wanneer jy bid, gaan na die stilste vertrek in die huis en maak die deur agter jou toe sodat jy daar in jou alleenheid tot jou Vader kan bid. En jou Vader wat alles weet, sal jou beloon. “Wanneer julle bid, moenie met woorde mors soos die ongelowiges nie. Hulle dink hulle stortvloed woorde sal maak dat hulle gebede beantwoord word. Moenie soos hulle maak nie, want julle Vader weet presies wat julle behoeftes is, selfs nog voordat julle Hom vra! Bid dan soos volg: Ons Vader in die hemel, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil hier op aarde uitgevoer word soos in die hemel.