Matteus 27:15-25

Matteus 27:15-25 AFR20

By elke fees het die prokurator die gebruik gehad om vir die skare een gevangene van hulle eie keuse vry te laat. Hulle het in daardie stadium 'n berugte gevangene aangehou met die naam Jesus Barabbas. Toe die skare byeen was, het •Pilatus vir hulle gevra: “Wie wil julle hê moet ek vir julle vrylaat, Jesus Barabbas of Jesus wat as Christus bekend staan?” Want hy het geweet dat hulle Hom uit naywer oorgelewer het. Terwyl hy op die regbank sit, het sy vrou 'n boodskap na hom gestuur: “Jy moet niks te doen hê met daardie •regverdige man nie, want ek het vannag in 'n droom baie oor hom verduur.” Die leierpriesters en die familiehoofde het die skare egter oorreed dat hulle op Barabbas moes aandring, en dat hulle Jesus moes laat doodmaak. Die prokurator het hulle weer gevra: “Wie van die twee wil julle hê moet ek vir julle vrylaat?” Hulle het geroep: “Barabbas!” Pilatus vra hulle toe: “Wat moet ek dan maak met Jesus wat as Christus bekend staan?” Hulle roep toe almal uit: “Laat Hy gekruisig word!” Hy het gevra: “Maar watter kwaad het hy dan gedoen?” Hulle het egter nog harder geskreeu: “Laat Hy gekruisig word!” Toe Pilatus sien dat hy niks bereik nie, maar dat daar eerder 'n oproer kom, het hy water geneem en voor die skare sy hande gewas en gesê: “Ek is onskuldig aan die bloed van hierdie man. Julle moet maar self toesien. ” Die hele volk het geantwoord: “Laat sy bloed op ons en ons kinders kom!”

Gratis leesplanne en oordenkings oor Matteus 27:15-25