Matteus 26:1-16

Matteus 26:1-16 AFR20

Toe Jesus al sy redevoerings voltooi het, het Hy vir sy dissipels gesê: “Julle is bewus daarvan dat die Pasga oor twee dae plaasvind, en dat die •Seun van die Mens oorgelewer gaan word om gekruisig te word. ” In daardie tyd het die leierpriesters en die familiehoofde van die volk in die ampswoning van die hoëpriester, met die naam Kajafas, vergader. Hulle het saam planne beraam om Jesus op 'n slinkse manier gevange te neem en dood te maak. Hulle het egter gesê: “Nie tydens die fees nie, sodat daar nie 'n oproer onder die volk ontstaan nie.” Toe Jesus in Betanië in die huis van Simon die Melaatse was, het 'n vrou na Hom gekom met 'n albasterfles baie kosbare reukolie, en dit oor sy kop uitgegiet terwyl Hy vir ete aangeleun het. Toe die dissipels dit sien, was hulle verontwaardig en vra: “Waarom hierdie verkwisting? 'n Mens kon dit vir baie geld verkoop het, wat aan die armes gegee kon word.” Toe Jesus dit merk, sê Hy vir hulle: “Waarom maak julle dit vir haar moeilik? Sy het immers 'n goeie daad aan My gedoen. Die armes het julle altyd by julle, maar vir My het julle nie altyd nie. Toe sy hierdie reukolie oor my liggaam uitgegooi het, het sy dit gedoen met die oog op my begrafnis. •Amen, Ek sê vir julle: Waar in die hele wêreld ook al hierdie evangelie verkondig word, sal daar, ter herinnering aan haar, vertel word van wat sy gedoen het.” Toe het een van die twaalf, met die naam Judas Iskariot, na die leierpriesters gegaan en gesê: “Wat is u bereid om my te betaal as ek Hom aan u oorlewer?” Hulle het met hom op dertig silwerstukke ooreengekom. Van toe af het hy 'n gepaste geleentheid gesoek om Hom oor te lewer.