Matteus 25:14-21

Matteus 25:14-21 AFR20

“Want dit is net soos 'n man wat op reis gaan en sy slawe roep en sy besittings aan hulle toevertrou. Vir een het hy vyf talent gegee, vir 'n ander een twee, en vir nog 'n ander, een – vir elkeen volgens eie vermoë. Daarop het hy vertrek. Onmiddellik het die man wat die vyf talent ontvang het, daarmee gaan woeker en 'n wins van nog vyf gemaak. Net so het die man met die twee nog twee wins gemaak. Maar die man wat een ontvang het, het 'n gat in die grond gaan grawe en sy eienaar se geld weggesteek. Ná 'n lang tyd kom die eienaar van daardie slawe terug en eis rekenskap van hulle. Die man wat die vyf talent ontvang het, het gekom en nog vyf gebring. Hy sê toe, ‘Meneer, u het my vyf talent gegee, en kyk, ek het 'n wins van nog vyf talent gemaak.’ Die eienaar het vir hom gesê, ‘Mooi so, goeie en getroue slaaf, oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Deel in jou eienaar se vreugde!’