Matteus 24:1-28

Matteus 24:1-28 AFR20

Jesus het uitgegaan en was besig om van die tempelterrein weg te beweeg. Sy dissipels het nader gekom om sy aandag op die tempelgeboue te vestig. Maar Hy sê vir hulle: “Sien julle al hierdie geboue? •Amen, Ek sê vir julle: Hier sal beslis nie een klip op 'n ander gelaat word nie – alles sal afgebreek word.” Terwyl Jesus op die Olyfberg gesit het, het die dissipels na Hom gekom en Hom eenkant gevra. “Sê vir ons,” het hulle gevra, “wanneer sal hierdie dinge plaasvind, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die tyd? ” Jesus het hulle geantwoord: “Pasop dat niemand julle mislei nie. Want baie mense sal in my Naam na vore tree en sê, ‘Ek is die Christus!’ en hulle sal baie mense mislei. Julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pasop, moenie verskrik raak nie. Want hierdie dinge moet gebeur, maar dit is nog nie die einde nie. Een nasie sal immers teen 'n ander nasie optrek en een koninkryk teen 'n ander koninkryk, en daar sal hongersnood wees en aardbewings op een plek ná die ander. Al hierdie dinge is die begin van die geboortepyne. Dan sal hulle julle oorlewer om verdruk te word en julle doodmaak, en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam. Dan sal baie tot 'n val kom, mekaar oorlewer en mekaar haat. Baie vals profete sal verskyn en hulle sal baie mense mislei. En omdat die wetteloosheid sal toeneem, sal baie se liefde afkoel. Wie egter volhard tot aan die einde, dié sal verlos word. Hierdie evangelie van die koninkryk sal oor die hele wêreld verkondig word as getuienis vir al die nasies. En dan sal die einde kom.” “Daarom, wanneer julle die gruwel van verwoesting waarvan die profeet Daniël praat, op die heilige plek sien staan – laat dié wat dit lees, goed begryp – dan moet hulle wat in Judea is, na die berge vlug, en wie op die dakstoep is, moet nie ondertoe gaan om besittings uit sy huis te gaan haal nie; en wie op die landerye is, moet nie terugdraai om sy bokleed te gaan haal nie. Wee hulle wat in daardie dae swanger is en borsvoed! Bid dat julle nie in die winter en op die Sabbat sal moet vlug nie; want dan sal daar groot verdrukking wees, soos daar sedert die begin van die wêreld tot nou toe nog nie was nie, en beslis ook nie weer sal wees nie. As daardie dae nie ingekort word nie, sou geen mens gered word nie. Maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae ingekort word.” “ As iemand dan vir julle sê, ‘Kyk, hier is die Christus!’ of ‘Hier is Hy!’ moet julle dit nie glo nie. Want vals christusse en vals profete sal na vore tree, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, indien moontlik, selfs die uitverkorenes te mislei. Kyk, Ek het dit vooruit vir julle gesê. As hulle dan vir julle sê, ‘Kyk, Hy is in die woestyn!’ moenie daarheen gaan nie, of ‘Kyk, Hy is in die binneste kamers!’ moet dit nie glo nie. Want net soos die weerlig uitslaan in die ooste en skyn tot in die weste, so sal die koms van die •Seun van die Mens wees. Waar die karkas lê, daar sal die aasvoëls versamel.