MATTEUS 24:1-28

MATTEUS 24:1-28 NLV

Terwyl Jesus besig was om die tempelterrein te verlaat, het sy dissipels nadergestaan om vir Hom die verskillende tempelgeboue uit te wys. Maar Hy het vir hulle gesê: “Ek verseker julle, al hierdie dinge wat julle voor julle sien, sal so totaal gesloop word dat nie een klip bo-op die ander een sal bly staan nie.” Later, nadat Jesus teen die hang van die Olyfberg gaan sit het, kom vra sy dissipels Hom vertroulik: “Vertel vir ons wanneer sal al hierdie dinge gebeur. En wat sal die voorteken van u koms en van die einde van die wêreld wees?” Jesus het vir hulle gesê: “Wees versigtig dat niemand julle op ’n dwaalspoor bring nie. Baie mense sal in my Naam met die aanspraak kom: ‘Ek is die Messias,’ en hulle sal baie op ’n dwaalspoor bring. Julle sal van oorloë hoor, hier naby en daar ver. Maar moenie paniekerig word nie. Hierdie dinge is bestem om te gebeur, maar die einde sal nog nie dadelik daarna kom nie. Nasies en koninkryke sal teen mekaar oorlog verklaar en daar sal wydverspreide hongersnode en aardbewings wees. Maar dit alles sal nog maar net die begin van die swaarkry wees. “Dan sal hulle julle arresteer, vervolg en doodmaak. Julle sal deur al die nasies gehaat word omdat julle mý mense is. “In daardie tyd sal baie mense hulle geloof afsweer en mekaar uitlewer en haat. Daar sal ook talle vals profete verskyn en hulle sal baie mense op ’n dwaalspoor bring. Die sonde sal so toeneem dat baie se liefde sal afkoel. Maar elkeen wat enduit volhard, sal verlos word. “Hierdie Goeie Nuus van God se koningsheerskappy sal eers in die hele wêreld, aan al die nasies, verkondig word voordat die einde kom.” “Die tyd kom wanneer julle die afskuwelike voorwerp wat verontheiliging veroorsaak en waarvan die profeet Daniël gepraat het, in die tempel sal sien staan” – my leser, gee nou spesiale aandag! – “dan moet die mense van Judea na die heuwels toe vlug. As jy op jou dakstoep sit, moet jy nie eers in die huis ingaan om in te pak nie. As jy buite op die land is, moet jy nie eers omdraai om jou bo-kleed te gryp nie. Hoe erg sal dit nie in daardie tyd wees vir vroue wat verwag of wat nog borsvoed nie! En bid dat dit nie vir julle nodig sal wees om in die winter of op die Sabbat te vlug nie. Dit sal ’n tyd van groot verdrukking wees, erger as enigiets wat die wêreld ooit tevore beleef het of hierna sal beleef. Om die waarheid te sê, as God nie ingryp en daardie tyd van swaarkry verkort nie, sal niemand dit oorleef nie. Maar ter wille van sy uitverkore mense sal dit wel verkort word.” “As iemand in daardie tyd vir julle sê: ‘Kyk, hiér is die Messias,’ of: ‘Dáár is Hy,’ moenie dit glo nie. Want daar sal baie vals messiasse en profete na vore kom. Hulle sal indrukwekkende tekens en wonders doen om, as dit moontlik sou wees, selfs God se uitverkorenes te probeer mislei. Let goed op, Ek het julle vooraf gewaarsku. As mense dan vir julle sou sê: ‘Kyk, Hy is in die woestyn,’ moenie gaan kyk nie. Of as hulle sou sê: ‘Kyk, Hy kruip in ’n geheime plek weg,’ moet hulle nie glo nie. Want soos die weerlig in die ooste uitslaan en sy lig tot in die weste laat skyn, so sal dit ook wees wanneer Ek, die Seun van die Mens, kom. Net soos ’n versameling aasvoëls die teenwoordigheid van ’n karkas aandui, so sal hierdie tekens wys dat die einde naby is.”