Matteus 22:1-14

Matteus 22:1-14 AFR20

Jesus het weer met hulle deur gelykenisse gepraat en gesê: “Die •koninkryk van die hemele is soos 'n koning wat 'n •bruilofsfees vir sy seun voorberei het. Hy het toe sy slawe gestuur om dié wat na die bruilofsfees genooi is, te roep, maar hulle wou nie kom nie. Nog 'n keer het hy ander slawe gestuur, met die opdrag, ‘Sê vir die genooides: Kyk, ek het my feesmaal gereedgemaak. My beeste en die vetgemaakte vee is geslag, en alles is gereed – kom na die bruilofsfees!’ Maar hulle het hulle nie daaraan gesteur nie en weggegaan, die een na sy stuk grond, die ander na sy besigheid. Die res van hulle het sy slawe gegryp, hulle sleg behandel en doodgemaak. Die koning het kwaad geword; hy het sy soldate gestuur, daardie moordenaars om die lewe gebring en hulle stad afgebrand. Toe sê hy vir sy slawe, ‘Die bruilofsfees is gereed, maar die genooides was dit nie waardig nie. Gaan dan uit na die kruispaaie en nooi soveel mense na die bruilofsfees as wat julle kan vind.’ Toe het daardie slawe uitgegaan na die paaie en almal bymekaargemaak wat hulle teëgekom het, slegtes sowel as goeies. En die bruilofsaal het vol gaste geword. Toe die koning ingaan om die gaste te sien, sien hy daar 'n man sonder 'n bruilofskleed aan. En hy vra hom, ‘Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder 'n bruilofskleed?’ Maar die man het geswyg. Toe sê die koning vir die dienaars, ‘Bind sy voete en hande vas en gooi hom uit in die duisternis daarbuite.’ Daar sal 'n geween en 'n gekners van tande wees. Baie is immers geroep, maar min is uitgekies.”