Matteus 15:1-11

Matteus 15:1-11 AFR20

Toe kom daar •Fariseërs en skrifkenners uit Jerusalem by Jesus aan en sê: “Hoekom oortree u dissipels die tradisie van die voorouers? Want hulle was nie hulle hande wanneer hulle gaan eet nie. ” Hy het hulle egter geantwoord: “Hoekom oortree ook julle die gebod van God met julle tradisie? God het tog gesê, ‘Eer jou vader en moeder,’ en ‘Wie sy vader of moeder beledig, laat hy beslis doodgemaak word.’ Maar julle sê, ‘Wie vir sy vader of moeder sê, Watter voordeel u ook al van my sou kon ontvang, is 'n offergawe, hoef sy vader hoegenaamd nie te eer nie.’ So het julle deur julle tradisie die woord van God kragteloos gemaak. Skynheiliges, Jesaja het tereg oor julle geprofeteer, “ ‘Hierdie volk eer My met die lippe, maar hulle harte is ver van My af; tevergeefs vereer hulle My, want hulle onderrig as leerstellings die voorskrifte van mense.’ ” Jesus het die skare nader geroep en vir hulle gesê: “Luister en verstaan dan: Dit is nie wat by die mond ingaan wat 'n mens •onrein maak nie; maar wat by die mond uitgaan, dit maak 'n mens onrein. ”