Matteus 13:1-58

Matteus 13:1-58 AFR20

Daardie selfde dag het Jesus, nadat Hy van die huis vertrek het, langs die see gaan sit. 'n Groot skare het om Hom saamgedrom, sodat Hy in die boot geklim het om daar te gaan sit. Die hele skare het op die strand bly staan. Hy het dikwels met hulle deur gelykenisse gepraat. Hy het gesê: “Kyk, 'n saaier het uitgegaan om te saai. Tydens die saaiery het 'n deel van die saad langs die pad geval, en die voëls het gekom en dit opgepik. Ander saad, weer, het op rotsagtige plekke geval waar daar nie baie grond was nie, en dit het dadelik opgekom, omdat die grond nie diep was nie. Maar toe die son opkom, is dit verskroei; omdat dit nie wortel geskiet het nie, het dit verdroog. Ander saad weer het tussen die dorings geval, en die dorings het opgekom en dit verstik. En nog ander het op goeie grond geval, en dit het opbrengs gelewer – party honderd-, ander sestig- en ander dertigvoudig. Laat dié wat ore het, luister!” Die dissipels het toe nader gekom en vir Hom gevra: “Hoekom praat U deur gelykenisse met hulle?” Hy het hulle geantwoord: “Omdat dit aan julle gegee is om die geheimenisse van die •koninkryk van die hemele te verstaan; maar vir daardie mense is dit nie gegee nie. Want wie het, aan hom sal gegee word en hy sal oorvloed hê; maar van wie nie het nie, sal ook dit wat hy het, weggeneem word. Daarom praat Ek met hulle deur gelykenisse, omdat hulle siende blind en horende doof is en dus nie verstaan nie. Wat hulle betref, word die profesie van Jesaja vervul: “ ‘Met die ore sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en met die oë sal julle sien en glad nie insig kry nie. Want hierdie volk se hart is afgestomp – hulle kan beswaarlik met hulle ore hoor; hulle het hulle oë gesluit, sodat hulle nie met hulle oë sien en met hulle ore hoor en met hulle harte verstaan en terugdraai en Ek hulle genees nie.’ “Maar gelukkig is julle oë, want hulle sien, en julle ore, want hulle hoor. •Amen, Ek sê vir julle, baie profete en •regverdiges het begeer om te sien wat julle sien, en hulle het nie gesien nie, en om te hoor wat julle hoor, en hulle het nie gehoor nie. “Maar wat julle betref, luister nou na die gelykenis van die saaier.” “Wanneer iemand die woord van die •koninkryk hoor en nie verstaan nie, kom die Bose en roof wat in sy hart gesaai is. Dit is die saad wat langs die pad gesaai is. Die saad wat op die rotsagtige plekke gesaai is, is hy wat hierdie woord hoor en dit dadelik met vreugde ontvang. Maar omdat hy nie wortel geskiet het nie, hou hy net 'n rukkie; as verdrukking of vervolging vanweë die woord plaasvind, struikel hy dadelik. En die saad wat tussen die dorings gesaai is – dit is hy wat hierdie woord hoor, maar die bekommernis van hierdie wêreld en die verleiding van rykdom verstik die woord, en dit bly sonder vrug. Die saad wat egter op die goeie grond gesaai is, dit is hy wat hierdie woord hoor en begryp. En hy dra vrug – die een honderd-, die ander sestig-, en die ander dertigvoudig.” Hy het 'n verdere gelykenis aan hulle voorgehou: “Die •koninkryk van die hemele is soos 'n man wat goeie saad op sy saailand gesaai het; maar terwyl die mense slaap, het sy vyand gekom, drabok tussen die koring gesaai en weggegaan. Toe die spruitjies opskiet en in die aar kom, het die drabok ook begin wys. Die eienaar se slawe het vir hom kom sê, ‘Meneer, het u dan nie goeie saad op u saailand gesaai nie? Waar kom die drabok vandaan?’ Hy het hulle geantwoord, ‘'n Vyand het dit gedoen.’ Die slawe sê toe vir hom, ‘Wil u dat ons dit bymekaar gaan maak?’ Maar hy sê, ‘Nee, anders kan julle dalk, terwyl julle die drabok bymekaarmaak, die koring saam uittrek. Laat albei saam groei tot die oes toe, en in die oestyd sal ek vir dié wat oes, sê: Maak eers die drabok bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar maak die koring in my skuur bymekaar. ’ ” Hy het nog 'n gelykenis aan hulle voorgehou: “Die •koninkryk van die hemele is soos 'n mosterdsaadjie wat iemand geneem en in sy tuin geplant het. Dit is die kleinste van al die soorte saad, maar wanneer dit gegroei het, is dit die grootste van al die tuinplante en word dit 'n boom, sodat die voëls van die hemel in sy takke kom nesmaak. ” Hy het nog 'n gelykenis vir hulle vertel: “Die koninkryk van die hemele is soos suurdeeg wat 'n vrou geneem en in drie saton koringmeel ingewerk het, totdat dit heeltemal deursuur is. ” Dit alles het Jesus deur gelykenisse aan die skare vertel, en sonder gelykenisse het Hy hulle niks vertel nie, sodat vervul sou word wat deur die profeet gesê is: “Ek sal deur gelykenisse spreek; Ek sal uitbasuin wat van die grondlegging van die wêreld af verborge was.” Toe het Jesus die skare weggestuur en die huis binnegegaan. Sy dissipels het na Hom gekom en gesê: “Verklaar vir ons die gelykenis van die drabok in die saailand.” Hy het geantwoord: “Die een wat die goeie saad saai, is die •Seun van die Mens; die saailand is die wêreld; die goeie saad is die kinders van die •koninkryk; die drabok is die kinders van die Bose; die vyand wat dit gesaai het, is die Duiwel; die oes is die voleinding van die tyd; en dié wat oes, is engele. Net soos die drabok dan bymekaargemaak en in die vuur verbrand word, so sal dit wees by die voleinding van die tyd. Die Seun van die Mens sal sy engele stuur, en hulle sal uit sy koninkryk al die struikelblokke en dié wat wetteloosheid bedryf, bymekaarmaak en hulle in die vuuroond gooi. Daar sal 'n geween en 'n gekners van tande wees. Dan sal die •regverdiges skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader. Laat dié wat ore het, luister! ” “Die •koninkryk van die hemele is soos 'n skat wat in die veld begrawe lê. 'n Man het dit ontdek en weer toegegooi. Uit blydskap gaan verkoop hy alles wat hy het en koop daardie grond. “Verder is die koninkryk van die hemele soos 'n handelaar op soek na goeie pêrels. Toe hy een baie kosbare pêrel vind, het hy gegaan en alles wat hy gehad het, verkoop en dit gekoop. “Verder is die koninkryk van die hemele soos 'n treknet wat in die see uitgewerp is en van elke soort vis gevang het. Toe dit vol was, het hulle dit op die strand getrek. Hulle het toe gaan sit en die goeies in houers bymekaargemaak, maar die slegtes uitgegooi. So sal dit wees by die voleinding van die tyd: Die engele sal uitgaan, en hulle sal die bose mense tussen die •regverdiges uithaal en hulle in die vuuroond gooi. Daar sal 'n geween en 'n gekners van tande wees. ” “Verstaan julle al hierdie dinge?” “Ja,” het hulle geantwoord. En Hy het vir hulle gesê: “Daarom is elke skrifkenner wat 'n leerling in die •koninkryk van die hemele geword het, soos 'n huiseienaar wat nuwe en ou dinge uit sy skatkamer haal.” Toe Jesus hierdie gelykenisse voltooi het, het Hy daarvandaan weggegaan. Toe Jesus in sy tuisdorp aankom, het Hy hulle in hulle •sinagoge geleer, sodat hulle verstom was en gesê het: “Waar kom hy aan hierdie wysheid en kragtige dade? Is hy dan nie die seun van die skrynwerker nie? Staan sy moeder nie bekend as Maria en sy broers as Jakobus, Josef, Simon en Judas nie? En woon sy susters dan nie almal hier onder ons nie? Waar kom hy dan aan al hierdie dinge?” En hulle het aan Hom aanstoot geneem. Jesus het egter vir hulle gesê: “'n Profeet is nie sonder eer nie, behalwe in sy tuisdorp en in sy huis.” Vanweë hulle ongeloof het Hy nie baie kragtige dade daar gedoen nie.