Later daardie dag het Jesus uit die huis gegaan en langs die see gaan sit. ’n Groot klomp mense het rondom Hom saamgedrom. Gevolglik was Hy verplig om in ’n skuit te klim en daarin te gaan sit om die mense te onderrig. Hulle het almal op die strand bly staan om na Hom te luister. Hy het vir hulle baie ge-lykenisse vertel, soos die volgende een:
“’n Boer het eendag lande toe gegaan om te saai. In die saaiproses het party van die saad op ’n voetpaadjie geval en die voëls het dit kom oppik. ’n Ander deel het weer op klipperige aarde sonder enige diepte geval. As gevolg van die vlak grond het dit vinnig opgeskiet. Maar toe die son warm begin bak, het dit verlep en omdat dit nie diep wortelgeskiet het nie, het dit toe heeltemal verdroog. Nog ’n deel het tussen die dorings geval. Toe die dorings opkom, het dit die koring verstik. Nog ander saad het op goeie grond geval. Dit het ’n oes voortgebring, party 100 maal, party 60 maal en party 30 maal soveel as wat oorspronklik gesaai is. Elkeen wat kan hoor, moet goed luister na wat Ek sê.”
Sy dissipels kom toe na Hom toe en sê: “Waarom gebruik U altyd sulke diepsinnige gelykenisse as U met die mense praat?”
Hy antwoord hulle toe: “Omdat julle bevoorreg word om die geheime van God se koningsheerskappy te verstaan. Húlle word nie so bevoorreg nie. Hulle wat reeds verstaan, vir hulle sal nog meer gegee word en hulle sal oorvloedige kennis hê. Maar hulle wat nie insig het nie, van hulle sal ook nog die bietjie weggeneem word wat hulle wel verstaan. Ek praat met hulle by wyse van gelykenisse, want hulle kyk en tog sien hulle nie, en hulle hoor, maar tog luister en verstaan hulle nie. Die profesie van Jesaja word in hulle geval bewaarheid:
‘Julle sal my woorde hoor
en tog nie verstaan nie.
Julle sal sien wat Ek doen
en dit tog nie werklik begryp nie.
Ja, die hart van hierdie volk het verhard,
en hulle hoor swaar met hulle ore,
en hulle het hulle oë toegemaak
sodat hulle nie dalk
met hulle oë sien
en met hulle ore hoor
en met hulle hart begryp
en tot bekering kom
en Ek hulle gesond maak nie.’
“Maar julle – gelukkig is julle oë omdat hulle sien en julle ore omdat hulle hoor. Dít verseker Ek julle, baie profete en godvresende mense het begeer om te sien en te hoor wat julle sien en hoor, maar dit was hulle nie beskore nie.
“Luister julle nou wat die gelykenis van die saaier beteken: Hulle by wie die saad op die voetpad gesaai is, is elkeen wat die boodskap van God se koningsheerskappy hoor, maar dit nie begryp nie. Die Bose kom en roof wat in hulle harte gesaai is. Hulle by wie op klipperige grond gesaai is, is die mense wat die boodskap hoor en dit dadelik met blydskap aanneem. Maar hulle wortels gaan nie diep nie en hulle hou net vir ’n rukkie. Sodra daar swaarkry of vervolging ter wille van die boodskap kom, struikel hulle in hulle geloof. Daardie mense by wie tussen die dorings gesaai is, is hulle wat die boodskap hoor, maar die bekommernis van hierdie lewe en die verleidelikheid van die rykdom verstik die boodskap en dit bly sonder vrug. Hulle by wie op die goeie grond gesaai is, is dié wat die boodskap hoor en verstaan. Hulle dra vrug en bring ’n oorvloedige oes voort: 100 of 60 of 30 maal soveel as wat oorspronklik gesaai is.”
Hy het ’n ander gelykenis aan hulle voorgehou met die woorde: “God se koningsheerskappy kan vergelyk word met ’n man wat goeie saad op sy land saai. Maar een nag, terwyl die mense geslaap het, het sy vyand gekom en onkruid tussen die koring gesaai en verdwyn. Toe die groen koring opskiet en in die aar begin kom, verskyn terselfdertyd ook die onkruid. Die slawe van die boer kom toe en sê vir hom: ‘Meneer, u het tog goeie saad op u land gesaai. Waar kom die onkruid dan vandaan?’
“‘Dis ’n vyand se werk!’ het hy uitgeroep.
“‘Moet ons die onkruid gaan uittrek?’ vra sy slawe hom.
“Maar hy antwoord: ‘Nee, dalk trek julle die koring saam uit wanneer julle die onkruid in bondels uittrek. Laat albei saam groei tot oestyd. Dan sal ek vir die mense wat oes, sê: Maak eers die onkruid bymekaar. Bind dit dan in bondels vas om verbrand te word. Maar bring die koring bymekaar in my skuur.’”
Hier is nog ’n gelykenis wat Hy vir hulle vertel het: “God se koningsheerskappy is soos ’n mosterdsaad wat iemand in sy tuin geplant het. Dit is die kleinste van alle saadsoorte, maar as dit groei, word dit groter as al die ander plante in die tuin. Dit word so ’n groot boom dat die voëls in sy takke kan kom nesmaak.”
Hy het ook die volgende gelykenis vir hulle vertel: “God se koningsheerskappy is soos suurdeeg wat ’n vrou gebruik het om brood te bak. Al het sy net ’n bietjie suurdeeg in ’n groot baksel meel ingewerk, het dit uiteindelik alles deursuur.”
Jesus het altyd gelykenisse soos hierdie gebruik as Hy met die skare praat. Om die waarheid te sê, Hy het nooit met hulle gepraat sonder om gelykenisse te gebruik nie.
So het die uitspraak van die profeet uitgekom:
“Ek sal deur middel van gelykenisse
met julle praat.
Ek sal bekendmaak
wat geheim gebly het
van die skepping van die wêreld af.”
Daarna het Jesus van die skare af weggegaan huis toe. Sy dissipels kom toe na Hom toe en vra: “Verduidelik asseblief vir ons die gelykenis van die onkruid op die saailand.”
“Goed,” antwoord Jesus. “Ek, die Seun van die Mens, is die boer wat die goeie saad saai. Die saailand is die wêreld. Die goeie saad is die mense wat aan God se koninkryk behoort. Die onkruid is hulle wat aan die Bose behoort. Die duiwel is die vyand wat die onkruid saai. Die oestyd is die voleinding van die wêreld en dié wat oes, is die engele.
“Net soos die onkruid bymekaargemaak word en verbrand word, so sal dit ook wees by die voleinding van die wêreld.
“Ek, die Seun van die Mens, sal my engele uitstuur. Hulle sal alles wat sonde veroorsaak en almal wat God se wet oortree uit my koninkryk verwyder en hulle in die brandende oond gooi. Daardie mense sal bitterlik huil en van selfverwyt op hulle tande kners.
“Dan sal dié wat reg voor God gelewe het, soos die son skitter in die koninkryk van hulle Vader. Elkeen wat kan hoor, moet goed luister na wat Ek sê.”
“God se koninkryk is soos ’n skat wat in ’n stuk grond weggesteek lê. Iemand kry dit daar, maar steek dit dadelik weer weg. Oorstelp van blydskap gaan verkoop hy alles wat hy het, en koop daardie stuk grond.”
“God se koninkryk is ook soos ’n pêrelhandelaar op soek na mooi pêrels. As hy een baie kosbare pêrel raakloop, gaan verkoop hy alles wat hy het, en koop daardie pêrel.”
“Verder is God se koninkryk soos ’n treknet wat in die see uitgegooi word en allerhande soorte vis bymekaarbring. Wanneer dit vol is, sleep die vissers dit op die strand uit. Hulle gaan sit, sorteer die goeie vis in kratte en gooi die slegtes weg. So sal dit ook wees by die voleinding van die wêreld. Die engele sal kom, die slegte mense wegneem van die goeies en hulle in die brandende oond gooi. Hulle sal bitterlik huil en van selfverwyt op hulle tande kners. Verstaan julle dit alles?”
Hulle antwoord Hom: “Ja, ons verstaan.”
Hy voeg toe by: “Elke skrifkenner wat ’n ware student in God se koninkryk geword het, is soos ’n huiseienaar wat nuwe sowel as ou dinge uit sy stoorkamer te voorskyn haal.”
Toe Jesus hierdie gelykenisse klaar vertel het, het Hy daarvandaan vertrek. In Nasaret aangekom waar Hy grootgeword het, het Hy die mense in hulle sinagoge onderrig. Hulle was verbaas en het gesê: “Waar kry hy hierdie wysheid en wonderwerke vandaan? Is hy dan nie maar net die timmerman se seun nie? En is Maria nie sy ma en Jakobus, Josef, Simon en Judas sy broers nie? En sy susters, hulle woon tog almal hier onder ons. Wat maak hom so danig belangrik?” Hulle was verontwaardig en wou niks van Hom weet nie.
Daarop het Jesus vir hulle gesê: “’n Profeet word oral gerespekteer behalwe in sy tuisdorp en in sy eie familiekring.” As gevolg van hulle ongeloof het Hy daar maar min wonderwerke gedoen.