Matteus 11:20-30

Matteus 11:20-30 AFR20

Toe het Jesus begin om die stede waarin die meeste van sy kragtige dade plaasgevind het, te verwyt, omdat hulle hulle nie bekeer het nie. “Wee jou, Gorasin! Wee jou, Betsaida! Want as die kragtige dade wat in julle plaasgevind het, in Tirus en Sidon gebeur het, sou hulle lankal in sak en as gesit en hulle bekeer het. Maar Ek sê vir julle, vir Tirus en Sidon sal dit op die oordeelsdag draagliker wees as vir julle. En jy, Kapernaum, “ ‘Sal jy tot die hemel toe verhoog word? Nee, jy sal na Hades afdaal!’ “Want as in Sodom die kragtige dade plaasgevind het wat in jou plaasgevind het, sou dit bly staan het tot vandag toe. Maar Ek sê vir julle, dit sal vir die gebied van Sodom op die oordeelsdag draagliker wees as vir jou.” In daardie tyd het Jesus gesê: “Ek loof U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg en dit aan kindertjies bekend gemaak het. Ja, Vader, want so het U dit goedgevind. Alles is deur my Vader aan My toevertrou. En niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader, en niemand ken die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom bekend wil maak. “ Kom na My toe, almal wat vermoeid en swaar belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle, en leer van My, omdat Ek sagmoedig en nederig van hart is, en julle sal rus vind vir julle gemoed. Want my juk is draaglik en my las is lig.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid