Matteus 10:32-42

Matteus 10:32-42 AFR20

“Daarom, elkeen wat My voor die mense bely, sal Ek ook voor my Vader in die hemele bely. Maar wie My voor die mense verloën, sal Ek ook voor my Vader in die hemele verloën.” “Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard. Want Ek het gekom om 'n wig in te dryf, “ ‘tussen 'n man en sy vader en tussen 'n dogter en haar moeder, en tussen 'n skoondogter en haar skoonmoeder; en 'n mens se vyande sal sy eie huismense wees.’ “Wie sy vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie, en wie sy seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie. En wie nie sy kruis opneem en My volg nie, is My nie waardig nie. “Wie sy lewe behou, sal dit verloor, en wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit behou.” “Wie julle ontvang, ontvang My, en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het. Wie 'n profeet ontvang omdat hy 'n profeet is, sal die beloning van 'n profeet kry, en wie 'n •regverdige ontvang omdat hy 'n regverdige is, sal die beloning van 'n regverdige kry. En wie aan een van hierdie geringes 'n beker koue water gee om te drink, bloot omdat hy 'n dissipel is – •Amen, Ek sê vir julle: Hy sal beslis sy beloning nie kwyt wees nie.”

Video for Matteus 10:32-42

Gratis leesplanne en oordenkings oor Matteus 10:32-42