Lukas 5:27-39

Lukas 5:27-39 AFR20

Hierna het Jesus buitentoe gegaan en 'n •tollenaar met die naam Levi by die tolhuis sien sit en vir hom gesê: “Volg My!” En hy het alles net so gelos, opgestaan en Hom gevolg. Levi het 'n groot feesmaal vir Hom in sy huis gehou waar 'n klomp •tollenaars en ook ander mense saam met hulle vir ete aangeleun het. Die •Fariseërs, en veral die skrifkenners onder hulle, het by sy dissipels gemor: “Waarom eet en drink julle saam met tollenaars en sondaars?” Jesus het hulle geantwoord: “Gesonde mense het nie 'n dokter nodig nie, maar wel die siekes. Ek het nie gekom om •regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering.” Die mense het vir Hom gesê: “Johannes se dissipels vas en bid gereeld, en die •Fariseërs se dissipels ook, maar u dissipels eet en drink maar voort.” Jesus het hulle geantwoord: “Julle kan tog nie die bruilofsgaste laat vas terwyl die bruidegom by hulle is nie? Maar daar kom 'n tyd wanneer die bruidegom van hulle weggeneem sal word. Dan, in daardie dae, sal hulle vas.” Hy het vir hulle nog 'n gelykenis vertel: “Niemand skeur 'n stuk materiaal uit 'n nuwe kledingstuk en werk dit op 'n ou kledingstuk vas nie. As mens dit doen, sal die nuwe kledingstuk skeur, en boonop sal die nuwe stuk nie by die ou kledingstuk pas nie. “En niemand gooi nuwe wyn in ou leersakke nie; anders sal die nuwe wyn die leersakke laat oopbars. Dan sal die wyn uitloop en die sakke sal tot niet gaan. Nee, nuwe wyn behoort in nuwe leersakke gegooi te word. Boonop het niemand wat ou wyn gedrink het, lus vir nuwe wyn nie. ‘Die oue smaak goed,’ sê hy.”