Lukas 5:2-11

Lukas 5:2-11 AFR20

sien Hy twee bote langs die meer lê. Die vissermanne het al uitgeklim en was besig om hulle nette uit te spoel. Jesus het in een van die bote geklim, die een wat aan Simon behoort, en hom gevra om 'n klein entjie van die land af weg te roei. Hy het gaan sit en die skare van die skuit af onderrig. Toe Jesus klaar gepraat het, sê Hy vir Simon: “Gaan uit na die diep water, en laat sak julle nette daar om vis te vang.” “Meester,” antwoord Simon, “ons het die hele nag deur geswoeg en niks gevang nie, maar op u bevel sal ek die nette weer laat sak.” En toe hulle dit doen, het hulle soveel vis gevang dat die nette wou skeur. Hulle het vir die makkers in die ander boot beduie om hulle te kom help. Toe hulle daar aankom, het hulle albei bote so vol gemaak dat dit begin sink het. Toe Simon •Petrus dit sien, val hy voor die knieë van Jesus neer en sê: “Gaan weg van my, Here, want ek is 'n sondige mens.” Verwondering het hom en almal saam met hom aangegryp oor die groot klomp vis wat hulle gevang het. Jakobus en Johannes, Sebedeus se seuns wat saam met Simon gewerk het, was net so verbaas. Jesus het egter vir Simon gesê: “Moenie bang wees nie. Van nou af sal jy mense vang.” Nadat hulle die bote op die strand getrek het, het hulle alles gelos en Hom gevolg.