Lukas 22:39-71

Lukas 22:39-71 AFR20

Hy het vertrek en, soos gewoonlik, na die Olyfberg gegaan. En die dissipels het Hom gevolg. Toe Hy by die plek aankom, sê Hy vir hulle: “Bid, sodat julle nie in versoeking kom nie.” Hy het toe 'n entjie van hulle af weggestap, ongeveer 'n klipgooi ver, gekniel en gebid: “Vader, as U wil, neem hierdie beker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied. ” Daar het 'n engel uit die hemel aan Hom verskyn en Hom versterk. Hy is deur intense angs oorval, en het nog ernstiger gebid. Sy sweet het soos druppels bloed op die grond geval. Toe Hy ná sy gebed opstaan, gaan Hy na sy dissipels, en vind hulle van droefheid aan die slaap. En Hy het vir hulle gesê: “Waarom slaap julle? Staan op en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. ” Jesus was nog besig om te praat, toe kom daar skielik 'n menigte aan, en die man wat Judas genoem word, een van die twaalf, het voor hulle uit geloop en nader gekom na Jesus om Hom te soen. Maar Jesus sê vir hom: “Judas, is dit met 'n soen dat jy die •Seun van die Mens oorlewer?” Toe diegene wat saam met Hom was, sien wat gaan gebeur, sê hulle: “Here, moet ons hulle met die swaard aanval? ” Daarop het een van hulle die slaaf van die hoëpriester getref, en sy regteroor afgekap. Maar Jesus het gesê: “Hou op daarmee!” Hy het die oor aangeraak en die man genees. Jesus het toe vir die leierpriesters en die bevelvoerders van die tempelwag en die familiehoofde wat teen Hom opgetrek het, gesê: “Het julle met swaarde en knuppels uitgetrek soos teen 'n rower? Ek was daagliks saam met julle op die tempelterrein, en tog het julle nie 'n hand op My gelê nie; maar dit is julle uur – nou regeer die duisternis. ” Nadat hulle Jesus gevange geneem het, het hulle Hom weggelei en die hoëpriester se ampswoning binnegelei. •Petrus het op 'n afstand gevolg. Hulle het 'n vuur in die middel van die voorhof aangesteek en daar by mekaar gaan sit, met Petrus tussen hulle. Toe 'n sekere diensmeisie hom daar in die lig van die vuur sien sit, het sy na hom gekyk en gesê: “Hy was ook saam met Hom.” Maar hy het dit ontken: “Ek ken Hom nie, vrou!” 'n Rukkie later het iemand anders hom opgemerk en gesê: “Jy is ook een van hulle.” Maar Petrus sê: “Man, ek is nie!” Ná ongeveer 'n uur het iemand anders daarop aangedring en gesê: “Sowaar, ook hy was saam met Hom, want hy is ook 'n Galileër!” Maar Petrus sê: “Man, ek weet nie waarvan jy praat nie.” En dadelik, terwyl hy nog besig was om te praat, het 'n haan gekraai. Die Here het omgedraai en stip na Petrus gekyk, en Petrus het die woorde van die Here onthou, dat Hy vir hom gesê het: “Voordat 'n haan vandag kraai, sal jy My drie maal verloën.” En hy het na buite gegaan en bitterlik begin huil. Die manne wat Hom gevange gehou het, was besig om die spot met Hom te dryf en Hom te slaan. Hulle het Hom geblinddoek en vir Hom gesê: “Toe, profeteer! Wie is dit wat u geslaan het?” En hulle het aangehou om Hom nog baie ander beledigende dinge toe te voeg. Teen dagbreek het die Raad van Familiehoofde byeengekom, die leierpriesters en skrifkenners, en hulle het Hom na hulle Sanhedrin weggelei. Hulle het gesê: “As jy die Christus is, sê dit vir ons.” Maar Hy sê vir hulle: “As Ek dit vir julle sê, sal julle My beslis nie glo nie. En as Ek 'n vraag vra, sal julle beslis nie antwoord nie. Maar van nou af sal ‘die •Seun van die Mens sit aan die regterhand van God, die Magtige. ’ ” Toe vra hulle almal: “Is jy dus die •Seun van God?” En Hy antwoord hulle: “Dit is julle wat sê dat Ek is.” Daarop sê hulle: “Waarom het ons enige verdere getuienis nodig? Want ons het dit self uit sy mond gehoor!”