Lukas 22:13-28

Lukas 22:13-28 AFR20

Hulle het vertrek en dit net so aangetref soos Hy vir hulle gesê het; en hulle het die Pasga voorberei. Toe die uur aanbreek, het Hy en die •apostels saam met Hom vir ete aangeleun. Toe sê Hy vir hulle: “Ek het van harte begeer om hierdie Pasga saam met julle te eet voordat Ek ly. Want Ek sê vir julle, Ek sal dit beslis nie weer eet totdat dit vervul is in die •koninkryk van God nie. ” Daarna het Hy 'n beker geneem, en nadat Hy gedank het, gesê: “Neem dit, en deel dit onder mekaar. Want Ek sê vir julle, van nou af sal Ek beslis nie weer van die vrug van die druiwestok drink, totdat die koninkryk van God gekom het nie.” En Hy het brood geneem, en nadat Hy die seëngebed uitgespreek het, breek Hy dit, en gee dit vir hulle, en sê: “Dit is my liggaam, wat vir julle gegee word. Doen dit om My in herinnering te bring.” So ook met die beker ná die ete, met die woorde: “Hierdie beker, wat ter wille van julle uitgegiet word, is die nuwe verbond deur my bloed. Maar kyk, die hand van die een wat My gaan verraai, is saam met My aan tafel. Want met die •Seun van die Mens sal dit gaan soos wat dit bepaal is, maar wee daardie man deur wie Hy verraai word.” Hulle het mekaar toe begin afvra wie van hulle dit tog sou wees wat so iets sou doen. Daar het toe 'n twis onder hulle ontstaan oor wie van hulle as die belangrikste beskou moet word. Maar Hy sê vir hulle: “Die konings van die nasies heers oor hulle, en diegene wat gesag oor hulle het, word weldoeners genoem. Julle is egter nie so nie. Maar laat die belangrikste onder julle wees soos die geringste, en die een wat leiding gee, soos iemand wat dien. Want wie is belangriker, die een wat aan tafel aanleun, of die een wat bedien? Is dit nie die een aan tafel nie? Ek, egter, is tussen julle soos iemand wat dien. “Julle is die mense wat deur al my beproewinge steeds by My gebly het.