In daardie tyd het keiser Augustus 'n dekreet uitgevaardig dat die bevolking van die hele ryk geregistreer moet word. Dit was die eerste volkstelling wat gehou is toe Sirenius prokurator van Sirië was. Almal het gegaan om hulle te laat registreer, elkeen na sy eie dorp. Josef het ook gegaan. Hy het van die dorp Nasaret in Galilea na Judea gegaan, na die stad van Dawid, wat Betlehem genoem word, omdat hy van die huis en nageslag van Dawid afkomstig was. Hy het saam met sy verloofde, Maria, wat swanger was, gegaan om hom te laat registreer. Terwyl hulle daar was, het die tyd aangebreek dat haar kind gebore moes word, en sy het geboorte geskenk aan haar eerste kind, 'n seun. Sy het Hom in doeke toegedraai en in 'n krip neergelê, omdat daar nie vir hulle plek in die herberg was nie.
Daar was skaapwagters in dieselfde omgewing wat in die oop veld gebly en snags hulle skaaptroppe opgepas het. 'n Engel van die Here het aan hulle verskyn, en die hemelse glans van die Here het rondom hulle geskyn. Hulle het geweldig groot geskrik. Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie. Kyk, ek bring vir julle 'n goeie boodskap wat vir die hele volk 'n bron van groot vreugde sal wees: Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid as Verlosser gebore, Christus die Here. Dit sal vir julle die teken wees: Julle sal 'n pasgebore kind vind wat in doeke toegedraai is en in 'n krip lê.” Skielik was daar saam met die engel 'n hemelse menigte wat God loof:
“Eer aan God in die hoogste,
en vrede op aarde vir die mense
in wie God 'n welbehae het! ”
Nadat die engele van hulle af na die hemel weggegaan het, sê die skaapwagters toe vir mekaar: “Kom ons gaan reguit na Betlehem en gaan kyk na wat gebeur het en wat die Here aan ons bekend gemaak het.”
Hulle het toe haastig daarheen vertrek en Maria en Josef en die Kindjie wat in die krip lê, daar aangetref. Nadat hulle Hom gesien het, het hulle aan almal gaan vertel wat oor hierdie Kindjie aan hulle gesê is.
Almal wat hiervan gehoor het, was verwonderd oor wat die skaapwagters aan hulle vertel het, maar Maria het al hierdie woorde gekoester en in haar hart daaroor bly nadink. Die skaapwagters het teruggekeer, terwyl hulle God verheerlik en prys oor alles wat hulle gehoor en gesien het – presies soos dit aan hulle meegedeel is.
Ná verloop van agt dae moes die Kindjie besny word. En Hy is Jesus genoem, die naam wat deur die engel aangedui is voordat Hy in die moederskoot ontvang is.
Ná afloop van hulle reinigingstyd wat die Wet van Moses voorskryf, het hulle Hom na Jerusalem geneem om Hom aan die Here te wy. Soos daar in die Wet van die Here geskryf staan: “Elke eerstelingseun wat gebore word, moet aan die Here gewy word.” Hulle het ook, soos die Wet van die Here voorskryf, 'n offer gebring: “twee tortelduiwe, of twee jong duiwe” .
En kyk, in Jerusalem was daar 'n man met die naam Simeon. Hierdie man was wetsgehoorsaam en toegewyd, en het uitgesien na die herstel van Israel. Die Heilige Gees was met hom. Hy het deur die Heilige Gees 'n openbaring ontvang dat hy nie die dood sou sien voordat hy die Gesalfde van die Here gesien het nie. Gelei deur die Gees, het hy na die tempelterrein gegaan. Toe Jesus se ouers die Kindjie inbring, sodat hulle die gebruiklike voorskrif van die wet oor Hom kon nakom, het Simeon Hom in sy arms geneem en God geloof:
“Nou, Here, kan U u dienskneg in vrede laat sterf,
soos U gesê het.
My oë het inderdaad u verlossing gesien,
wat U ten aanskoue van al die volke bewerk het,
'n lig wat vir die nasies tot openbaring dien,
en eer bring aan u volk Israel.”
Sy vader en moeder was verstom oor die dinge wat oor Hom gesê is.
Simeon het hulle geseën en vir Maria, sy moeder, gesê: “Kyk, hierdie Kindjie is bestem vir die val en die opstaan van baie mense in Israel, as 'n teken wat betwis word, sodat die bedoelinge van baie mense aan die lig kan kom. En wat jou betref, 'n swaard sal deur jou siel gaan.”
Daar was ook 'n profetes, Anna, 'n dogter van Fanuel, uit die stam van Aser. Sy was al op gevorderde leeftyd. Sy is as jong meisie getroud, het sewe jaar lank saam met haar man geleef, en was nou 'n weduwee van byna vier-en-tagtig jaar oud. Sy het nie van die tempelterrein af weggebly nie en God dag en nag gedien deur te vas en te bid. Juis op daardie oomblik het sy nader gekom en God gedank, en met almal wat na die bevryding van Jerusalem uitgesien het, oor die Kindjie gepraat.
Toe Josef-hulle alles nagekom het wat die Wet van die Here van hulle verwag, het hulle na Galilea teruggegaan, na hulle tuisdorp Nasaret. Die Kindjie het gegroei en sterk geword , en vol wysheid, en die genade van God was met Hom.