Lukas 18:1-30

Lukas 18:1-30 AFR20

Hy het vir hulle 'n gelykenis vertel oor hoe nodig dit is om altyd te bid en nie moed te verloor nie. Hy het gesê: “Daar was 'n sekere regter in 'n bepaalde stad, wat nie ontsag vir God gehad het nie en hom aan geen mens gesteur het nie. Daar was ook 'n weduwee in daardie stad, wat hom bly opsoek het met die versoek, ‘Laat reg aan my geskied in my saak teen my opponent.’ 'n Tyd lank wou hy nie, maar naderhand het hy by homself gedink: Al het ek geen ontsag vir God en steur ek my aan geen mens nie, sal ek, omdat hierdie weduwee my moeite gee, tog maar reg aan haar laat geskied; anders gaan sy my tot aan die einde bly teister.” Toe sê die Here: “Luister na wat die onregverdige regter sê! Sal God dan nie reg laat geskied aan sy uitverkorenes wat bedags en snags na Hom roep nie? Sal Hy hulle lank laat wag? Ek sê vir julle, Hy sal baie gou aan hulle reg laat geskied. Die vraag is net: Sal die •Seun van die Mens, wanneer Hy kom, geloof op aarde vind?” Met die oog op sommige mense wat oortuig was van hulle eie regverdigheid en op ander neergesien het, het Jesus hierdie gelykenis vertel: “Twee mense het opgegaan na die tempelterrein om te bid. Die een was 'n •Fariseër en die ander 'n •tollenaar. Die Fariseër het gaan staan en só oor homself gebid, ‘God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is, wat roof, onreg doen en egbreuk pleeg nie, en ook nie soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer per week, en ek gee 'n tiende van alles wat ek verdien. ’ Die tollenaar het egter op 'n afstand bly staan, en wou selfs nie eers na die hemel opkyk nie, maar het op sy bors geslaan en gesê, ‘O God, wees my, die sondaar, genadig!’ Ek sê vir julle, hierdie man, eerder as die ander een, het na sy huis gegaan as iemand wie se saak met God reggestel is. Want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, maar elkeen wat homself verneder, sal verhoog word. ” Hulle het ook kindertjies na Jesus gebring, sodat Hy hulle kon aanraak. Toe die dissipels dit sien, het hulle die mense berispe. Jesus het hulle egter nader geroep en gesê: “Laat die kindertjies na My toe kom, en moet hulle nie langer verhinder nie, want die •koninkryk van God behoort aan mense soos hulle. •Amen, Ek sê vir julle: Wie die koninkryk van God nie soos 'n kindjie ontvang nie, sal beslis nie daar ingaan nie.” 'n Sekere maghebber het Hom gevra: “Goeie Meester, wat moet ek doen, sodat ek die ewige lewe kan erf?” Jesus het hom geantwoord: “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe Een, en dit is God! Jy ken die gebooie: Jy mag nie egbreuk pleeg nie; jy mag nie moord pleeg nie; jy mag nie steel nie; jy mag nie vals getuig nie; eer jou vader en jou moeder. ” Hy antwoord: “Dit alles het ek van jongs af nagekom.” Toe Jesus dit hoor, sê Hy vir die man: “Een ding ontbreek jou nog: Verkoop alles wat jy het en deel dit onder die armes uit, en jy sal 'n skat in die hemele hê. En jy, kom hier, volg My.” Toe die man dit egter hoor, het hy baie bedroef geword, want hy was skatryk. Toe Jesus sien hoe bedroef die man word, het Hy gesê: “Hoe moeilik is dit tog vir hulle wat rykdom het, om in te gaan in die •koninkryk van God; want dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te gaan as vir 'n ryk mens om in die koninkryk van God in te gaan.” Die mense wat dit gehoor het, sê toe: “Wie kan dan gered word?” En Hy antwoord: “Wat onmoontlik is by mense, is by God moontlik.” Daarop sê •Petrus: “Kyk, ons het ons besittings agtergelaat en U gevolg.” Jesus het hulle geantwoord: “•Amen, Ek sê vir julle: Daar is niemand wat, ter wille van die koninkryk van God, huis of vrou of broers of ouers of kinders agtergelaat het, wat nie in hierdie tyd veel meer sal ontvang nie – én in die bedeling wat kom, die ewige lewe.”