Lukas 12:1-59

Lukas 12:1-59 AFR20

Terwyl die skare in hulle duisende saamdrom, sodat hulle mekaar byna vertrap, begin Jesus toe eers met sy dissipels praat: “Wees op julle hoede vir die suurdeeg van die •Fariseërs, dit is, hulle skynheiligheid. Daar is niks bedek wat nie openbaar sal word nie, en niks verborge wat nie bekend sal word nie. Daarom sal alles wat julle in die donker sê, in die lig gehoor word; en wat julle vir mekaar in julle slaapkamers in die oor fluister, sal van die dakstoepe af verkondig word.” “My vriende, Ek sê vir julle: Moenie hulle vrees wat die liggaam doodmaak, en daarna niks verder kan doen nie. Maar Ek sal vir julle aantoon wie julle moet vrees: Vrees Hom wat, nadat Hy doodgemaak het, die mag het om iemand in Gehenna te werp. Ja, Ek sê vir julle, Hom moet julle vrees. Word vyf mossies nie vir twee assarius verkoop nie? En nie een van hulle is vergete voor God nie. Selfs die hare op julle kop is almal getel. Moenie bang wees nie – julle is meer werd as baie mossies. ” “Ek sê vir julle, elkeen wat My voor die mense bely, hom sal die •Seun van die Mens ook bely voor die engele van God. Maar wie My voor die mense verloën, sal voor die engele van God verloën word. Elkeen wat iets teen die Seun van die Mens sê, dit sal hom vergewe word; maar wie teen die Heilige Gees laster, sal nie vergewe word nie. En wanneer hulle julle voor die •sinagoges en die owerhede en die maghebbers bring, moet julle nie bekommerd wees oor wat julle ter verdediging moet sê nie, want die Heilige Gees sal julle op daardie oomblik leer wat julle moet sê.” Iemand uit die skare het vir Hom gesê: “Meester, sê vir my broer om die erfenis met my te deel.” Maar Hy antwoord hom: “Mens, wie het My as regter of bemiddelaar oor julle aangestel? ” Toe sê Hy vir hulle: “Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want 'n mens se lewe word nie bepaal deur die oorvloed van sy besittings nie.” Daarna het Hy vir hulle die volgende gelykenis vertel: “'n Sekere ryk man se plaas het 'n goeie oes opgelewer. Hy het homself toe afgevra, ‘Wat moet ek doen? Want ek het nie plek waar ek my oes kan opgaar nie.’ Toe sê hy, ‘Dit is wat ek sal doen. Ek sal my skure afbreek en groter skure bou. Daarin sal ek al my graan en my goedere opgaar. Dan sal ek vir myself sê, Mens, jy het baie goed opgegaar vir baie jare. Ontspan, eet, drink en wees vrolik.’ Maar God het vir hom gesê, ‘Jou dwaas! Vannag nog sal jou lewe opgeëis word. En wat jy bymekaargemaak het, aan wie sal dit dan behoort?’ So gaan dit met iemand wat vir homself skatte bymekaarmaak, en nie in God ryk is nie.” Hy het toe vir sy dissipels gesê: “Daarom sê Ek vir julle, moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle sal eet, of oor julle liggaam, wat julle sal aantrek nie. Die lewe is tog belangriker as kos en die liggaam as klere. Let op die kraaie: Hulle saai nie en hulle maai nie, hulle het nie 'n stoorkamer of 'n skuur nie. Tog sorg God vir hulle. Hoeveel meer is julle nie werd as die voëls nie! Wie van julle kan, deur hom te bekommer, een el by sy lewe voeg? As julle nie eers so 'n klein dingetjie kan regkry nie, waarom bekommer julle julle oor die res? “Let op die wilde narsings, hoe hulle groei. Hulle swoeg nie, en hulle spin nie. Maar Ek sê vir julle, selfs Salomo in al sy prag was nie soos een van hulle geklee nie. En as God die gras in die veld wat vandag nog daar staan en môre in 'n oond gegooi word, so klee, hoeveel te meer vir julle, kleingelowiges! “Moet ook nie soek na dit wat julle moet eet of drink en daaroor besorg wees nie. Dit is immers alles dinge waarna die nasies van hierdie wêreld soek; maar julle Vader weet wat julle nodig het. Soek eerder sy •koninkryk, en hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. Moenie bang wees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het dit goedgevind om die koninkryk aan julle te gee. Verkoop julle besittings en gee vir liefdadigheid. Maak vir julle beursies wat nie vergaan nie, 'n onuitputlike skat in die hemel, waar 'n dief nie kan bykom en geen mot kan verniel nie. Want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.” “Laat julle heupe omgord wees en julle lampe aan die brand. En wees soos mense wat vir hulle eienaar wag om van die •bruilofsfees terug te kom, sodat hulle, wanneer hy tuiskom en klop, dadelik vir hom kan oopmaak. Gelukkig is daardie slawe vir wie die eienaar wakker aantref wanneer hy terugkom. •Amen, Ek sê vir julle: Hy sal sy gordel vasmaak, hulle vir ete laat aanleun en hulle kom bedien. En as hy in die tweede of derde nagwaak kom en hulle só aantref – gelukkig is daardie slawe. Maar dit moet julle weet: As die huiseienaar geweet het op watter tydstip die dief kom, sou hy nie by sy huis laat inbreek het nie. Wees julle ook gereed, want die •Seun van die Mens kom op 'n tyd wanneer julle dit nie verwag nie.” Toe vra •Petrus: “Here, vertel U hierdie gelykenis vir ons, of vir almal?” En die Here antwoord: “Wie is die betroubare en verstandige bestuurder vir wie die eienaar oor sy dienaars sal aanstel om hulle rantsoene op tyd te gee? Gelukkig is daardie slaaf wie se eienaar hom so aan die werk sal vind wanneer hy kom. Waarlik, Ek sê vir julle: Hy sal hom oor al sy besittings aanstel. Maar as daardie slaaf in sy hart sê, ‘My heer talm om te kom’, en hy begin die dienaars en diensmeisies slaan, en begin eet en drink en dronk word, sal die eienaar van daardie slaaf op 'n dag kom wat hy nie verwag nie en op 'n uur wat hy nie weet nie. Hy sal hom middeldeur laat kap en hom laat deel in die lot van die ontroues. Daardie slaaf wat weet wat sy eienaar wil hê, en nie gereed is of gedoen het wat sy eienaar van hom verwag nie, sal swaar gestraf word. Maar die een wat dit nie weet nie, en dinge gedoen het wat straf verdien, sal net lig gestraf word. Van elkeen aan wie baie gegee is, sal baie geëis word, en aan wie baie toevertrou is, van hom sal meer gevra word.” “Ek het gekom om 'n vuur op die aarde aan te steek, en hoe wens Ek dat dit al aan die brand was! Ek het 'n doop waarmee Ek gedoop moet word, en hoe swaar lê dit nie op My totdat dit afgehandel is nie! Dink julle dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring? Nee, sê Ek vir julle, eerder verdeeldheid, want van nou af sal vyf mense in een huis verdeeld wees, drie teen twee en twee teen drie. “Daar sal verdeeldheid wees: vader teen seun en seun teen vader, moeder teen dogter en dogter teen moeder, skoonmoeder teen haar skoondogter en skoondogter teen skoonmoeder.” Toe sê Hy vir die skare: “Wanneer julle 'n wolk in die weste sien opkom, sê julle dadelik, ‘Daar kom reën!’ en dit gebeur so. En wanneer die suidewind waai, sê julle, ‘Dit gaan baie warm word!’ en dit gebeur ook. Skynheiliges, julle weet hoe om die voorkoms van die aarde en die lug te beoordeel, maar hoe is dit dat julle nie weet hoe om hierdie beslissende tyd te beoordeel nie?” “Hoekom kan julle nie self oordeel oor wat reg is nie? As jy saam met jou teenstander owerheid toe gaan, doen moeite om die saak onderweg met hom te skik, sodat hy jou nie voor die regter sleep, en die regter jou aan die hofbeampte oorgee, en die hofbeampte jou in die tronk gooi nie. Ek sê vir jou: Jy sal beslis nie daar uitkom voordat jy die laaste lepton betaal het nie.”