Op 'n keer het Jesus op 'n sekere plek gebid, en toe Hy klaar was, het een van sy dissipels vir Hom gesê: “Here, leer ons bid, soos ook Johannes sy dissipels geleer het. ”
Hy het vir hulle gesê: “Wanneer julle bid, moet julle sê,
“ ‘Vader, laat u Naam
geheilig word.
Laat u •koninkryk kom.
Gee ons elke dag
ons daaglikse brood
en vergeef ons ons sondes;
want ook ons vergeef elkeen
wat teenoor ons skuldig staan.
En bring ons nie
in versoeking nie.’ ”
Hierna het Hy vir hulle gesê: “Gestel een van julle het 'n vriend, en hy gaan om middernag na hom en sê vir hom, ‘Vriend, leen tog vir my drie brode, want 'n vriend van my wat op reis is, het by my aangekom en ek het niks om vir hom voor te sit nie.’ En daardie man antwoord van binne af, ‘Moet my nie pla nie! Die deur is al gesluit, en ek en my kindertjies is al in die bed. Ek kan nie opstaan om dit vir jou te gee nie.’ Ek sê vir julle, selfs al staan hy nie op om dit vir hom te gee omdat hy sy vriend is nie, sal hy tog opstaan en vir hom gee wat hy nodig het, omdat die man so onbeskaamd aanhou. Ek sê vir julle:
“Vra, en vir julle sal gegee word;
soek, en julle sal vind;
klop, en vir julle
sal oopgemaak word.
Want elkeen wat vra, ontvang;
en wie soek, vind;
en vir wie klop, sal oopgemaak word.
“Watter vader onder julle sal, as sy seun hom 'n vis vra, hom 'n slang in plaas van 'n vis gee? Of as hy 'n eier vra, vir hom 'n skerpioen gee?