Lukas 10:1-20

Lukas 10:1-20 AFR20

Hierna het die Here nog twee-en-sewentig ander aangewys en hulle twee-twee voor Hom uitgestuur na elke dorp en plek wat Hy nog wou besoek. Hy het vir hulle gesê: “Die oes is groot, maar die arbeiders min. Daarom moet julle bid tot die Here, aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes. Gaan nou! Kyk, Ek stuur julle soos lammers tussen wolwe in. “ Moenie 'n beursie of 'n reissak of sandale saamdra nie, en moet niemand langs die pad groet nie. Watter huis julle ook al binnegaan, sê eers, ‘Vrede vir hierdie huis!’ As daar 'n vredeliewende mens woon, sal julle vrede op hom rus, anders sal dit na julle terugkeer. Bly in dieselfde huis, terwyl julle eet en drink wat hulle aanbied, want die arbeider is sy loon werd. Moenie van huis tot huis rondtrek nie. As julle in 'n dorp kom en die mense verwelkom julle, eet wat aan julle voorgesit word. Maak die siekes wat daar is, gesond en sê vir hulle, ‘Vir julle is die •koninkryk van God op hande.’ Maar as julle in 'n dorp kom waar hulle julle nie verwelkom nie, gaan dan uit in die strate en sê, ‘Selfs die stof van julle dorp wat aan ons voete kleef, vee ons af as aanklag teen julle. Maar dit moet julle weet: Die koninkryk van God is op hande!’ Ek sê vir julle: Vir die mense van Sodom sal dit op daardie dag draagliker wees as vir daardie dorp.” “Wee jou, Gorasin! Wee jou, Betsaida! Want as die kragtige dade wat in julle plaasgevind het, in Tirus en Sidon gebeur het, sou hulle lankal in sak en as gesit en hulle bekeer het. Maar vir Tirus en Sidon sal dit op die oordeelsdag draagliker wees as vir julle. En jy, Kapernaum, “Sal jy tot die hemel toe verhoog word? Nee, jy sal na Hades afdaal! “Wie na julle luister, luister na My, en wie julle verwerp, verwerp My. En wie My verwerp, verwerp Hom wat My gestuur het.” Die twee-en-sewentig het vol blydskap teruggekeer en gesê: “Here, selfs die demone onderwerp hulle aan ons op grond van u Naam.” Toe sê Hy vir hulle: “Ek het Satan soos 'n weerligstraal uit die hemel sien val. Kyk, Ek het aan julle gesag gegee om op slange en skerpioene te trap, en ook oor al die mag van die vyand. Niks sal julle enige skade kan aandoen nie. En tog moet julle nie bly wees net omdat die geeste hulle aan julle onderwerp nie. Wees eerder bly dat julle name reeds in die hemel opgeskryf is. ”

Gratis leesplanne en oordenkings oor Lukas 10:1-20